Nog ‘n verdagte het vandag in die Kimberley-landdroshof in verband met die aanval op wyle Piet Els (87) en sy lewensmaat, Rikkie Alsemgeest (68), verskyn.
Lebobang Elias Melesi (27) het op aanklag van moord, huisbraak en verkragting verskyn.
Kapt. Sergio Kock, woordvoerder van die polisie, het aan FiND iT bevestig dat Melesi op 12 Februarie 2019 in Galeshewe in hegtenis geneem is.
Twee halssnoere, ‘n swart iPhone, ‘n armhorlosie en ‘n ring is in Melesi se besit gevind.
Els, ‘n bekende sakeman van Kimberley en Alsemgeest is op 23 Januarie 2018 op Els se plaas net buite Kimberley op die Griekwastad-pad aangeval.
Els, wat tydens die aanval ernstig beseer is, het na 111 dae in die intensiewe-sorgeenheid in die MediClinic Gariep-hospitaal in Kimberley aan sy besering beswyk. Els was vanaf 24 Januarie, wat hy opgeneem is, tot die dag van sy dood in ICU.
Luidens die klagstaat het die beskuldigde Alsemgeest seksueel gemolesteer.
Nadat die beskuldiges Els en Alsemgeet vasgebind het, is hulle met ‘n strykyster gebrand voordat die beskuldigdes met ‘n wit Mercedez Benz-motor, 33-30 jaggeweer, ‘n pistool, drie armhorlosies ter waarde van R450 00.00, Kruger-rande en ‘n ring, ter waarde van 1.5 miljoen, gevlug het.
Drie beskuldigdes Morapedi Rankali, Motlalentwe Qhautse en Thuso Ramolo het reeds op 16 Mei 2018 in die Kimberley-landdroshof verskyn op aanklag van huisbraak, moord en verkragting.
Die saak is uitgestel tot 18 Februarie 2019. Die verdagte bly in aanhouding en die ondersoek duur voort.