PRIESKA. – Polisielede het die gesin van Vanessa Barends op Prieska besoek om te simpatiseer oor haar dood. Sy is oor die naweek op Prieska verkrag en vermoor.
Die LUR vir vervoer, veiligheid en skakeling in die Noord-Kaap, Nontobeko Vilikazi, het saam met die provinsiale hoof, brig. Nicky Mills, en ander lede die Barends-gesin besoek.
Howard Tsume, die plaaslike burgemeester, het ook die gemeenskap se meegevoel aan die familie oorgedra. Hy het gesê hy is geskok deur die voorval en het sy kantoor opdrag gegee om projekte te begin om die misbruik van dwelms aan te spreek. ‘n Optog sal volgende week georganiseer word om bewustheid te skep rakende die verkoop van dwelms en dwelmmisbruik in die gemeenskap.
Luidens die verklaring het Vilikazi haar hartseer en meegevoel aan die gesin oorgedra en gesê dit is onaanvaarbaar dat vroue geteiken en vermoor word en dat niemand meer veilig is nie. Hierdie voorvalle gebeur nou meer gereeld. Die polisie het belowe om te verseker dat die ondersoek spoedig afgehandel sal word.
Twee verdagtes is gearresteer waarvan een ‘n minderjarige is.
Mills het verklaar hy sal persoonlik toesien dat die ondersoek deeglik gedoen word. Die verdagtes sal agter tralies bly tot hulle volgende verskyning in die Prieska-landdroshof op 7 Augustus 2019.
Vilikazi het gesê die gemeenskap sal by die hof protesteer om hulle ondersteuning aan die familie te wys.


