Restaurant-eienaar hartroerend gegroet in stampvol kerk

Lees ook :

Mense het vandag van oral oor Suid-Afrika gekom om vir Daniel Williams, die gewilde restaurant-eienaar van die stad, te groet.

Daniel, eienaar van Occidental Bar by die Groot Gat, is Sondag skielik oorlede. Die oorsaak van sy dood is nog onbekend.

Die diens

Die diens het begin met ongeveer 40 motorfiets wat die Biker’s Church agter mekaar binnegekom het. Die brul van die motorfietse het weergalm deur die saal en was ‘n herinnering aan die groot liefde wat Daniel vir motorfietse gehad het. 

Terwyl die liedjie “Nothing else matters” van Metallica gespeel het, het die familie die kerk binnegekom. Sy vrou, Elise en ma, Christine, het hard teen die trane geveg, terwyl pa Mike hulle weerskante van hom probeer troos het. Sy suster, Sara, haar kêrel en broer Michael, het mekaar ondersteun.

Pastoor Ben Vorster van die Biker’s Church het vertel watter groot skok Daniel se dood was. Hy het die familie en spesifiek vir Elise, sterkte toegewens omdat dit nie maklik kan wees om op so ‘n jong ouderdom ‘n weduwee te moet wees nie. 

Die begrafnisbrief is soos ‘n spyskaart gedoen. Vriende en familie het hom in nege sinne opgesom: ‘n Rolmodel, ‘n gentleman, ‘n man met ‘n hart van goud, ‘n fantastiese kok, ‘n toegewyde man, ‘n fantastiese seun, ‘n liefdevolle broer, ‘n talentvolle musikant en ‘n legend!

Pastoor Ben het gesê dis baie duidelik hoe ‘n groot rol Daniel in mense se lewens gespeel het en watter groot leemte sy dood gaan laat. Vriende en familie van Daniel kon die trane nie keer nie. 

Toesprake

Na pastoor Ben se preek het Karen, ‘n jare lange vriendin van Christine van Lime Acres, waar die Williams-kinders grootgeword het, gepraat. Sy het spesifiek met Mike gepraat nadat daar hoeveel vrae is van “hoekom Daniel en nie ek nie?”. “Julle moet een ding vandag weet: Daniel sal altyd ‘n spesiale plek in die gemeenskap van Lime Acres hê.”

Broer en suster praat

Met haar stem wat bewe en heeltyd kraak, het Sara vertel Daniel was haar eerste vriend en sy sal hom nooit vergeet nie. “Ek hoor nou nog jou stem in my kop wat sê: “chill ouks,  it will be okay”. Dis duidelik ‘n gesegde wat almal van Daniel geken en sal onthou.

Sy het belowe sy sal aanhou om die liefde wat Daniel vir Elise gehad het, vir haar te wys. Sy het hom bedank vir al die liefde, tyd en aandag wat hy aan haar kinders gegee het en dat hulle hulle oom baie gaan mis. 

“Jy was nie net my broer nie,  jy was my rolmodel,” het Michael gesê toe dit sy beurt was om te praat. “Ek sal mooi kyk na jou vrou, ma, pa en ons enigste sussie kyk. Cheers bro.”

Pa en seun

Mike het gesukkel om te praat en het gevra mense moet asseblief geduldig wees. Dit is nie vir hom maklik nie. Hy sê hy het nie geweet waar om te begin toe hy moet dink aan iets om te skryf nie. “As Daniel nou hier was, sou hy net gegrap het en gesê het, “ín the be-ning-ging.”

Hy het staaltjies uit Daniel se kinderjare vertel en hoe Daniel uit sy maag gelag het as hulle televisie-speletjies gespeel het. Hy onthou ook die lang middagstappies saam met Daniel. “Dis omdat ons nie ‘n betroubare kar gehad het nie, dat ons so baie gestap het,” grap hy.

Daniel laat ‘n leemte

Soos Mike praat kan jy agterkom dat pa en seun ‘n baie hegte band gehad het en dat dit vir hom moeilik gaan wees om elke dag sonder hom aan te pak. “Wie gaan nou saam met my gaan visvang?”

Een van sy beste herinneringe van hom en sy seun was toe hulle twee Thailand toe was. “Ons was vir twee weke daar. Eerste week het ons gaan werk en die tweede week het ons gaan visvang. Dis wat ek en Daniel die graagste saam gedoen het.”

“My beste vriend, visvang maat, besigheidsvennoot.” Hy het almal bedank wat die diens bygewoon het en gesê hy weet sy seun het ‘n groot impak op baie mense se lewens gehad. 

Een van Daniel se gunsteling liedjies “Don’t fear the reaper”, ook van Metallica, het ook gespeel.

Die diens het afgesluit met foto’s op die skerm, terwyl Thunderstruck in die agtergrond gespeel het. Op die foto’s en videos wys dit hoe Daniel sing tydens die Thailand toer, van hom as kok by die Occidental en sy liefde vir musiek. 

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App