Riool loop tussen huise uit

Lees ook :

KIMBERLEY – Rioolwater loop al vir jare tussen die huise in Petrusstraat, Hillcrest, uit.

Pieter Botha (53), wat al 11 jaar lank in Petrusstraat woon, sê die probleem bestaan al van voor hy daar ingetrek het. Dit is al menigmale gerapporteer en inwoners van dié gebied het al ‘n petisie opgestel. “Die reuk is verskriklik. Mens ruik dit tot in Queensweg. Ons vorige bure het al getrek weens die reuk en omdat daar niks aan gedoen word nie.”

Johan Combrink (52), ook ‘n inwoner van dié gebied, sê hy het al self die probleem gerapporteer. Hy het al met verskeie mense by die munisipaliteit gepraat, selfs met een van die munisipale ingenieurs. “Die probleem kom al sedert 1994 en inwoners so ver soos Avivaweg, ondervind dit ook. Die riool stoot by sekere inwoners se storte en toilette op.

“Daar is al mediese afval van die hospitaal in die riool gevind. Eienaars kry nie hulle huise verkoop nie. Jy sal nooit die waarde van jou huis kry nie.”

Denise Coetzee, woordvoerder van Medi-Clinic Gariep, sê alle mediese afval wat deur Mediclinic Gariep sowel as die dokterspraktyke in die hospitaal gegenereer word, word drie keer per week deur Compass Waste verwyder en in Roodepoort, Gauteng, verbrand. Geen mediese afval van die hospitaal beland ooit in die rioolstelsel nie.

“Die munisipale rioolpompstasie in Petrusweg het ‘n stelsel wat die rioolvlakke kontroleer.  Ongelukkig verstop die pompstasie gereeld en loop die riool uit. Om dié rede het Mediclinic Gariep se tegniese personeel sedert die opening van die hospitaal twee tot drie keer per week na die pompstasie gegaan en dit met die hand as voorkomende maatreël aan te skakel.  Ons is toegang tot die stasie verleen deur die Sol Plaatje-munisipaliteit. Aan die einde van 2018 het die munisipaliteit egter die slotte vervang en is ons tegniese personeel toegang tot die pompstasie geweier,” se Coetzee.

“Mediclinic Gariep kontak die betrokke afdeling by Sol Plaatje feitlik daagliks om die oorvloei van riool aan te meld. Hulle onderneem om iemand uit te stuur, maar steeds gebeur daar niks. Die probleem word telkens na ‘n ander amptenaar of ambagsman verwys. Ons versoek om weer toegang tot die pompstasie te kry, is geweier.”

Sharon Steyn, ‘n DA-raadslid, sê hulle is bewus van die probleem. Dit is deel van die geïntegreerde ontwikkelingsplan (IDP). “Dit is onaanvaarbaar en ‘n gesondheidsrisiko.”

Sello Matsi, woordvoerder van die Sol Plaatje-munisipaliteit, sê die kapasiteit van die rioolpompstasie is te klein vir die aantal mense in die woonbuurt, insluitend die hospitaal. Die munisipaliteit beplan om R30 miljoen te spandeer om dié stasie op te gradeer. Dit is ongelukkig ‘n projek waarvoor fondse nog bekom moet word, se hy.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App