Die leeumannetjie wat verlede maand uit die Karoo Nasionale Park ontsnap het, is gevang.
“Die 200 kg-leeu is Woensdag ongeveer 20 km buite Sutherland gevind,” het Reynold Thakuli, woordvoerder van SANParke, aan FiND iT gesê. “Ons het vandat hy ontsnap het sy spore dopgehou.”
Thakuli sê die leeu het in die 27 dae wat hy weg was, ongeveer 120 km geloop.
Die leeu is omstreeks 18:00 met ‘n verdowingspyl vanuit ‘n helikopter gepyl. “Boere van die omgewing het ons laasweek gebel en gesê dat hulle spore in die veld sien,” vertel Thakuli.
Die leeu is daarna na die polisiestasie se aanhoudingselle geneem, waar hy die aand oornag het.
“Sodra ‘n krat van die Oos-Kaap arriveer, sal ons hom terugneem, maar dié keer sal hy ‘n halsband kry voor hy vrygelaat word, “ sê Thakuli.
Die leeu het op 15 Februarie uit die park ontsnap nadat die grond onder die heining weggespoel het as gevolg van swaar reën. Daar word vermoed dat hy onder die heining deurgekruip het.
In die tydperk wat die leeu op vrye voet was, het hy ongeveer 14 diere platgetrek, onder andere ‘n eland en skape.