Die Galeshewe-eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe (GKS) se harde werk het vrugte afgewerp deurdat verdagtes in drie sake gevonnis is.
Sergio Kock, woordvoerder van die polisie in die Noord-Kaap, sê: “Die polisie verwelkom die vonnis van Sylverster Oliphant (28) in die Kimberley-streekshof. Oliphant is op 29 Maart 2019 tot 10 jaar tronkstraf vir verkragting opgelê. Die oortreder het op 3 Augustus 2017 ongeveer 19:15 ’n vrou (25) in Debeershoogte op Barkly-Wes verkrag. Adj.-konst. Aretha Claasen het die saak ondersoek en het uitstekende werk gelewer.”
Voorts sê hy: “Op 28 Julie 2018 ongeveer 13:40 het Thabiso Jonkers (30) ’n vrou (31) in Galeshewe seksueel aangerand. Die ondersoekbeampte, adj.-ao. Jakob du Plessis het ’n goeie ondersoek gelewer. Die oortreder is op 2 April 2019 in die Galeshewe-streekshof tot drie jaar tronkstraf vir die oortreding opgelê.”
“Twee mans is onlangs in die Kimberley-streekshof vir die verkragting van ’n 14-jarige meisie skuldig bevind. Thabiso Diretse (19) en Tumelo Maporea (20) is albei vir die verkragting van verskeie vroue skuldig bevind. Die oortredings het tussen 2014 en 2015 in die Transit Camp-gebied in Kaghiso plaasgevind. Albei mans is op 26 Maart 2019 elk vyf jaar tronkstraf opgelê. Adj.-sers. Lesego Oliphant word vir uitstekende dienslewering bedank,” sê Kock.
Die provinsiale hoof van die GKS, brig. Nicky Mills, het kol. Marli Strydom en haar span ondersoekbeamptes by die Galeshewe-GKS en omliggende gebied vir uitstekende dienslewering bedank. “Kom ons werk saam om misdaad te bekamp. So maak ons seker almal is en voel veilig,” sluit kapt. Kock af.