Elke dag dink kubermisdadigers nuwe maniere uit waarop hulle hulle niksvermoedende slagoffers van hul hardverdiende geld kan beroof.
Wees gewaarsku teen verdagte oproepe van ‘n persoon wat beweer hy of sy is ’n rekenaartegnikus wat ’n probleem op jou rekenaar opgespoor het.
Hier volg ses tekens wat volgens die webtuiste, makeuseof.com, jou kan help om nie deur slim slenters op die telefoon uitgevang te word nie.
1. Jy het die oproep ontvang.
Indien jy nie die oproep gemaak het nie en jy voel ongemaklik, is dit ’n goeie waarskuwingsteken dat jy moontlik met ’n skelm op die lyn is.
Wees wakker as jy oproepe vanaf tolvrynommers of van ver af kry.
Wanneer jy ’n oproep maak, maak seker jy skakel die regte nommer.
2. Die persoon skep ’n ernstige of ekstreme scenario.
Skelms wil jou onkant vang en hulle gebruik daarom ekstreme scenario’s om jou kwesbaar te maak. Hulle sal byvoorbeeld vir jou sê jou rekenaar het ’n gevaarlike virus wat jou bankbesonderhede kan steel.
Hulle kan ook vir jou vertel ’n vriend of geliefde is in gevaar of is in die moeilikheid en het jou hulp of geld nodig.
Verdagtes kan jou sosialemedia-profiel nagaan om byvoorbeeld vas te stel wat jou vakansieplanne is en selfs die name van jou familielede uitvind.
3. Jy word gedruk om ’n betaling te maak.
Volgens die webtuiste versoek slenters ’n betaling sodra hulle jou bang gepraat het. Terwyl jy geskok is, kan jy nie nugter dink nie en die swendelaar gebruik dit tot sy voordeel.
Die webtuiste raai aan dat jy vra waarvoor die betaling is. In die meeste gevalle kan die persoon nie ’n reguit antwoord gee nie.
Die goue reël is om nie ’n betaling te maak nie, veral as jy nie die aanvanklike oproep gemaak het nie.
4. Hulle versoek selfoonlugtyd of ’n geskenkbewys as betaling.
Dit is ’n duidelike teken van swendelary wanneer die persoon versoek om met ’n geskenkbewys of lugtyd betaal te word.
5. Hulle maak beloftes wat te goed is om waar te wees.
Dit is ’n ou gesegde, maar dit bly waar. Wees bedag op oproepe, e-posse en ander boodskappe wat sê jy het ’n prys of ’n reis gewen. Moet nooit jou persoonlike inligting met vreemdelinge deel nie.
6. Hulle dreig jou.
In sommige gevalle word die slagoffer nie net beroof nie. Die vermeende boef sal sy slagoffer vir ’n spoedige betaling dreig en intimideer. Hulle kan dreig om jou toe te sluit of selfs met fisiese geweld dreig.
Dit is ’n rooi vlag. Geen besigheid sal sulke gedrag deur hulle werkers duld nie.