Boitumelo spesiale skool se sokkerspan gaan 7 tot 21 Maart 2019 in Abu Dhabi aan die spesiale Olimpiese Spele deelneem.
Vandag het die departement van onderwys aan hierdie span ’n tjek ter waarde van R40 000 oorhandig om by te dra tot hulle behoeftes om voor te berei vir die Spesiale Olimpiese Spele.
Die departement van onderwys in die Noord-Kaap besef wat die waarde van sport en fisiese opvoeding is om by kinders ’n goeie fondasie te lê.
Sport het baie voordele
“Om aan sport deel te neem, het baie voordele,” sê Geoffrey van der Merwe, woordvoerder vir die departement van onderwys in die Noord-Kaap. “Sport kan mense herenig, families en gemeenskappe bou. Dit help ons om fisies en geestelik goed te voel oor onsself,” sê Van der Merwe.
Sport ontwikkel fisiese vaardighede
Verder sê Van der Merwe dat sport voordelig is vir kinders om hulle fisiese vaardighede te ontwikkel. Hulle maak ook nuwe vriende, leer om ’n spanmaat te wees, leer hoe om regverdig te speel en sommer net hoe om pret te hê.
Departement ondersteun sport
Luidens ’n verklaring lig Van der Merwe uit hoe belangrik dit is dat kinders sport beoefen. “Juis hieroor sal ons departement aanhou om alle sportsoorte te ondersteun en te help ontwikkel,” sê Van der Merwe.
Van der Merwe wens Boitumelo Spesiale skool se sokkerspan geluk en wens hulle alle voorspoed toe.
“Indeed a child in sport is a child out of court,” sê van der Merwe.