’n Vrou het ligte beserings opgedoen toe sy met haar motor in ’n gat beland het wat deur werknemers van Sol Plaatje gegrawe is toe hulle ’n gebarste pyp wou regmaak.
Die pyp het glo Sondagoggend in Opheliastraat, Herlear, gebars, vertel ’n inwoner aan FiND iT. “Sol Plaatje het Maandagmiddag 15:00 gekom om die gat reg te maak,” sê die inwoner. “Maar hulle het die groot gat net so oop gelos deur die nag.”
Bettie Williams en haar seun het Dinsdagoggend omstreeks 04:00 daar verbygery en in die gat ingery. “My vrou het haar nek seergemaak en haar lyf is baie seer,” vertel Eddie Williams aan FiND iT. “My seun het gelukkig nie seergekry nie, hy ly net aan erge skok,” vertel Williams.
Volgens die inwoner het Sol Plaatje die gat Dinsdagmiddag kom opvul. Daar is wel waarskuwingstekens opgesit, maar dit is nie duidelik of die oliekanne wat dien as waarskuwingstekens deur ’n verbyganger of Sol Plaatje daar gesit is nie.
Sello Matsi, woordvoerder van Sol Plaatje Munisipaliteit wou nie kommentaar lewer nie.