Solidariteit hof toe om sportkwotas stop te sit

Lees ook :

Solidariteit was Woensdag 6 Maart in die Johannesburgse arbeidshof om te argumenteer dat die ministerie van sport en ontspanning se transformasiehandves tersyde gestel moet word. Dit sal die implementering van kwotas by verskeie sportliggame beëindig.

Hierdie hofsaak vorm deel van Solidariteit en AfriForum se gesamentlike veldtog teen die gebruik van kwotas in sport.

In die aanloop tot die saak het Solidariteit en AfriForum in Maart 2017 daarin geslaag om spesifieke kwotapersentasies vir verskeie sportsoorte ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (Paia) te bekom. Hierdie inligting het ontbloot dat die bedoeling van die sportowerhede met betrekking tot kwotas veel verder strek as net spankeuses. Dit behels selfs die rassesamestelling van afrigters, raads- en komiteelede en  ondersteuningpersoneel – opsommend kom dit voor of die sportowerhede op ʼn sentrale wyse die rassesamestelling van alle werknemers in die werksomgewing van sport wil reguleer.

Volgens Werner Human, adjunkbestuurshoof van Solidariteit, was die hofstukke gevolglik dienooreenkomstig voorberei en uitgereik. Die respondente is die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (SARU), Krieket Suid-Afrika (KSA), Atletiek Suid-Afrika (ASA) en Netbal Suid-Afrika (NSA) en die minister van sport. Al die respondente opponeer Solidariteit se hofaansoek.

Human voer aan dat dié transformasiehandves, as dit goedgekeur word, die minister van sport, Tokozile Xasa, bykans onbeperkte mag oor sport sal gee. As voorbeeld verduidelik Human dat indien ʼn sportsoort nie die kwota-persentasie haal nie, die betrokke sportsoort se befondsing opgeskort kan word. “Die effek van die magte waaroor die minister sal beskik, is dat sy die Springbokke se baadjies van hulle kan wegneem as rugby nie voldoende ‘getransformeer’ is nie,” het Human gesê.

“Om ras as maatstaf te gebruik vir spankeuses, druis in teen die spelers se grondwetlike regte. Om met kwotas vol te hou, en sportsoorte in Suid-Afrika verder te politiseer, is ʼn resep waarvolgens alle spelers verloor,” het Human gesê.

Human meen ook dat die onlangse omsendskrywe van Suid-Afrikaanse Skoleatletiek (Sasa) aanduidend is van hoe ver en drasties die rassekwotastelsel in sport verwikkeld geraak het. Sou Solidariteit met hierdie hofaansoek slaag, sal dit meebring dat hierdie soort omsendskrywes tot niet sal wees.

“Dit is ironies dat die regerende party nou kwotas toepas, terwyl hy in 1970 by internasionale liggame gepleit het dat sportlui slegs op meriete beoordeel moet word. Ons staan steeds by die standpunt dat meriete die enigste faktor in die samestelling van sportspanne moet wees,” het Human bygevoeg.

Weens die volgehoue druk deur Solidariteit en AfriForum, is die verbod wat die voormalige minister van sport in April 2016 opgelê het, afgeskaf. Hierdie handves en die toenemende druk om aan rassekwotas in sport te voldoen, veroorsaak dat sport in Suid-Afrika ʼn politieke kommoditeit word, eerder as wat dit ʼn ruimte vir alle atlete en spelers is om hul talente ten toon te stel.

As Solidariteit se hofaansoek slaag, sal dit ʼn einde bring aan die politisering van sport en sal die fokus kan val op die ontwikkeling en ontginning van die talente van alle atlete en spelers.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App