Solidariteit plaas fokus op maatskaplike werkers

Lees ook :

Solidariteit het vandag aangekondig dat hy ’n unieke netwerk van werk vir maatskaplike werkers gestig het.

Luidens ’n verklaring gaan Solidariteit se Beroepsgilde vir Maatskaplike Werkers hom daarop toespits om as waghond vir die beroep op te tree en te verseker dat die profiel van maatskaplike werkers gelig word.

Onetiese en ondeurdagte besluite

Volgens Marisa Engelbrecht, afdelingshoof van innovasie by Solidariteit, getuig die departement van maatskaplike ontwikkeling in KwaZulu-Natal se oorhaastige verplasing van kinders die afgelope week en die blote feit dat die Natalse hooggeregshof in die guns van die Christelik-maatskaplike dienste (CSS) beslis het, van die departement se disfunksionaliteit om protokol te volg. “Dit was vir ons net weer ’n bevestiging dat maatskaplike werkers blootgestel is aan onetiese en ondeurdagte besluite deur onkundiges in hoë poste,” sê Engelbrecht.

Departement nie beskikbaar

Dié uitspraak volg nadat nagenoeg 200 kinders die afgelope naweek by Môrester Ladysmith, Môrester Newcastle en Huis Meah in opdrag van die departement verwyder is nadat daar vermoedelik ’n klagte van rassisme en emosionele mishandeling was. Alvorens die bewering ondersoek is, is die kinders verwyder. Die departement was ook nie die naweek beskikbaar om sy aksies te verduidelik nie.  

Departement plaas druk

Engelbrecht sê voorts dat dié oorhaastige en ondeurdagte opdrag van die departement verreikende gevolge gehad het. “Afgesien van die geweldige trauma wat die kinders moes deurgaan, moes maatskaplike werkers en versorgers by die departement en die CSS bontstaan om die situasie te probeer beredder. Die administratiewe en emosionele druk wat die departement op die betrokke mense geplaas het wat met hierdie getraumatiseerde kinders moes werk, is onaanvaarbaar,” het Engelbrecht gesê.  

Maatskaplike werkers byt die spit af

“Maatskaplike werk is ʼn ondankbare werk en maatskaplike werkers is gewoonlik die mense wat die spit moet afbyt. Hierdie geval is weer eens ʼn bewys dat mense wat opgelei is, toegelaat moet word om hul werk te doen sonder inmenging van ondoeltreffende staatsamptenare wat nie omgee oor wat die implikasies van hul impulsiewe besluite is nie,” aldus Engelbrecht.

Hofbeslissing verwelkom

Solidariteit se Beroepsgilde vir Maatskaplike Werkers verwelkom die hof se beslissing dat die verdere ondersoek teen 18 Maart afgehandel moet wees sonder om die kinders verder te traumatiseer. “Ons sal die situasie fyn dophou en sal verdere stappe teen die departement neem indien hy voortgaan om teen wetgewing en sy eie regulasies op te tree en so ʼn onaanvaarbare werksomgewing vir maatskaplike werkers en versorgers te skep. Ons steun ook Solidariteit Helpende Hand se onafhanklike verslag oor die situasie en is dankbaar dat hulle ook na die getraumatiseerde personeel uitreik deur berading aan hulle te gee,” het Engelbrecht afgesluit.




Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App