Rachel Kolisi, Springbok kaptein Siya Kolisi se vrou, het Maandagmiddag op Instagram uitgevaar teen ‘n vrou wat blykbaar vir haar man ‘n foto van haarself gestuur het, net in onderklere.
Rachel het die vrou se Instagram gebruikersnaam op haar status gedeel en gevra dat mense haar moet help om die vrou op te spoor.
Op ‘n video wat Rachel, met ‘n rooi gesig van kwaadheid, op haar Instagram gemaak het, sê sy dat sover sy weet die vrou by Virgin active in Claremont oefen.
“Ek wil net die situasie afsluit deur te sê die dae toe vroue nonsens moes vat, en nonsens moet hanteer, en niks daaromtrent doen nie, is verby.”
Rachel het intussen haar Instagram gesluit. Die vrou wat die foto gestuur het se Instagram en Facebook is ook intussen gesluit en sy het ook nie op Rachel se aanmerkings reageer nie.
Hierdie is wel nie die eerste geval waar Rachel op sosiale media teenoor vroue uitvaar wat by haar man aanlê nie. In Junie 2018 het Rachel teenoor ‘n Twitter-gebruiker, Yonela uitgevaar wat getwiet het dat Siya na haar “tipe” lyk.
Na beide hierdie gevalle het mense teenoor haar uitgevaar en gesê dat sy ‘n “dikker vel” moet ontwikkel veral as sy met ‘n Springbok-rugbyspeler getroud is.
By navrae wou nie Rachel of Siya kommentaar oor die situasie lewer nie.
Intussen het die vrou, wat die foto gestuur het op haar Instagram gesê dat sy bewyse het dat Siya eerste vir haar ‘n boodskap gestuur het en vir haar gesê het dat sy na sy onderbroek-handelsmerk se Instagram blad moet gaan kyk.
Die vrou sê verder dat Siya haar eie foto aan haar gestuur het, en nie sy vir hom nie.
“Hou jou man aan ‘n korter leiband,” skryf die vrou verder op haar Instagram.