WES-KAAP. – Navorsers aan die Universiteit Stellenbosch het bevind baie verpakte kosse vir babas en jong kinders in Suid-Afrika bevat geurmiddels wat moontlik hul eetgewoontes en gesondheid kan beïnvloed. “Ons studie toon dat ongeveer ’n derde (36,2%) van kommersiële aanvullende voedsel geurmiddels bevat,” het navorsers gesê.
Die studie is onlangs gepubliseer in Maternal & Child Nutrition en het gefokus op produkte vir babas van ses tot 23 maande wat in supermarkte, apteke en babawinkels beskikbaar is. Daar is bevind dat die meeste geurmiddels soet is, met vanielje as die algemeenste geur. Ander geure sluit karamel, sjokolade, heuning en rooibos in. “Byna vyf-en-tagtig persent (84,2%) van babagraankosse en -pap bevat geurmiddels,” het die navorsers bygevoeg. Die meeste van die produkte wat by die studie ingesluit is, is in Suid-Afrika vervaardig, terwyl die res ingevoer is.
Martin Viljoen, US-woordvoerder, sê die navorsers het ook gewaarsku teen misleidende bemarking. “Meer as die helfte (52,4%) van die geurmiddelbevattende produkte is as geskik vir babas van ses maande en ouer bemark. Hierdie soort bemarking kan daartoe lei dat kinders ’n voorkeur vir sekere geure bo aanvaarding van die spesifieke kosse ontwikkel,” het hulle gesê. Hulle het beklemtoon dat net 51% van die produkte aan alle Suid-Afrikaanse etiketteringsregulasies voldoen en dat streng nasionale meganismes nodig is om voedselvervaardigers te monitor en die integriteit van baba- en kindervoeding te verseker.
Druk hier om meer te lees.
Lees die volledige verklaring van die US hier onder:
Studie onthul moontlike skadelike geurmiddels in voedsel vir Suid-Afrikaanse babas
- Hierdie soort bemarking kan daartoe lei dat kinders ‘n voorkeur vir sekere geure bo aanvaarding van die spesifieke kosse ontwikkel
- strenger nasionale meganismes nodig om te verseker dat voedselvervaardigers ten volle aan alle aspekte van voedselveiligheidsregulasies voldoen
- Klankgrepe aangeheg
Baie verpakte kosse vir babas en jong kinders wat in Suid-Afrika verkoop word, bevat geurmiddels wat hulle eetgewoontes en gesondheid kan benadeel. Geurmiddels in hierdie kosse – ook genoem kommersiële aanvullende voedsel (CCF’s) – moet herevalueer word en etiketteringsregulasies moet behoorlik toegepas word. Só sê navorsers aan die Universiteit Stellenbosch.
In ‘n studie wat onlangs in die vaktydskrif Maternal & Child Nutrition verskyn het, het hulle ‘n profiel geskep van geurmiddels wat by CCF’s gevoeg is, met die fokus op die voorkoms en tipe (smaak, geur en aard) daarvan. Deur foto’s van produketikette te neem en na vervaardigers uit te reik, het die navorsers gekyk na CCF’s vir babas en jong kinders van ses tot 23 maande en wat in supermarkte, apteke en babawinkels landwyd beskikbaar is. Die meeste van die produkte wat by die studie ingesluit is, is in Suid-Afrika vervaardig, terwyl die res ingevoer is.
Volgens die navorsers moet geskikte aanvullende voedsel saam met borsmelk vanaf die ouderdom van ses maande bekendgestel word om in die groeiende voedings- en energiebehoeftes van babas en jong kinders te voorsien. Hulle sê min is bekend oor geurmiddels in CCF’s en die potensiële negatiewe impak daarvan op kinders se smaakvoorkeure, eetgewoontes en langtermyngesondheid. Die meeste CCF’s is soet en bevat baie suiker, met baie wat bygevoegde suiker bevat om babas en jong kinders se natuurlike voorkeur vir soetheid te prikkel.
“Ons studie toon dat ongeveer ‘n derde (36,2%) van CCF’s geurmiddels bevat, met net meer as ’n driekwart (75,9%) hiervan wat een bevat en die res tot drie geurmiddels.
“Byna vyf-en-tagtig persent (84,2%) van babagraankosse en -pap bevat geurmiddels. Die geurmiddels in CCF’s was hoofsaaklik soet geure (meer as 80%) met vanielje wat die algemeenste geur is. Ander geure sluit karamel, sjokolade, heuning en rooibos in.”
Die navorsers vestig ook die aandag op die kwessie van misleidende bemarking van CCF’s.
“Hoewel alle geurmiddelbevattende CCF’s geurmiddels korrek in hulle bestanddeellyste aangedui het, was ‘n klein persentasie CCF-name en/of beskrywings misleidend vir ouers en versorgers deur te impliseer dat die produkte sekere werklike bestanddele bevat, nie net geurmiddels van hierdie bestanddele nie.
“Meer as die helfte (52,4%) van die geurmiddelbevattende produkte is as geskik vir babas van ses maande en ouer bemark. Byna die helfte (48,6%) van die babadrankies, wat almal as geskik vir babas van ses maande en ouer gemerk is, bevat geurmiddels.
“Hierdie soort bemarking kan daartoe lei dat kinders ‘n voorkeur vir sekere geure bo aanvaarding van die spesifieke kosse ontwikkel.”
Die navorsers voeg by dat baie CCF’s wat in die handel beskikbaar is, beweer hulle bevat nie bygevoegde geurmiddels nie, maar hierdie aansprake is teenstrydig met nasionale regulasies.
“Net meer as die helfte (51%) van CCF’s het aan alle Suid-Afrikaanse etiketteringsregulasies ten opsigte van geurmiddels voldoen en meer as driekwart (78,3%) het regulasies ten opsigte van nie-byvoegingseise oortree. Nie-byvoegingseise is stellings wat sê dat ‘n sekere bestanddeel – gewoonlik een wat algemeen by soortgelyke kosse gevoeg word – nie by die produk gevoeg is nie.
Hulle beklemtoon die toepassing van die nasionale regulasies ten opsigte van voedsel vir babas en jong kinders wat enige gesondheids-, mediese of voedingstellings vir hierdie produkte uitdruklik verbied.
“Nasionale regulasies speel ‘n uiters belangrik rol in die beskerming van openbare gesondheid om te verseker dat ouers en versorgers akkurate inligting ontvang oor die produkte wat hulle koop, en om die integriteit van baba- en kindervoeding te handhaaf. Die versterking van hierdie regulasies en die toepassing daarvan sal help om te verseker dat babas en jong kinders van veilige, voedsame en toepaslik gemerkte voedselopsies voorsien word.
“Die toepassing van hierdie regulasies is noodsaaklik om ouers en versorgers te help om behoorlike voedselkeuses vir hulle babas en jong kinders te maak.
“Ons het ook strenger nasionale meganismes nodig om te verseker dat voedselvervaardigers ten volle aan alle aspekte van voedselveiligheidsregulasies voldoen.”
Aangesien Suid-Afrika ‘n belangrike handelspoort is, sê die navorsers hulle bevindinge is ook van toepassing op buurlande in Afrika.
Hulle merk op dat hulle studie slegs aanvullende voedsel oorweeg het wat geskik is vir bekendstelling vanaf die ouderdomme van ses tot 23 maande, terwyl aanvullende voedsel vir jong kinders tot 36 maande oud geformuleer word. Baie babakosvervaardigers was ook huiwerig of selfs onwillig om verdere inligting oor die geurmiddels in hulle produkte te deel of kon eenvoudig glad nie bereik word nie.
Bron: Barnard, W; Du Plessis, L; Sigge, G 2025. Profile of Flavourings in Commercial Complementary Foods in South Africa. Maternal & Child Nutrition doi: org/10.1111/mcn.70065
Wilana Barnard
Afdeling Menslike Voeding (Departement Globale Gesondheid) / Departement Voedselwetenskap





