Patrick Mabilo, die uitvoerende burgemeester van Kimberley, sê die verhoging van 11.4% op die heffing van elektrisiteit is nog nie finaal nie.
Tydens ’n vergadering met Tumelo Mosikare, sekretaris van die Sol Plaatje-gemeenskapsforum, het Mabilo en die waarnemende munisipale bestuurder, Boy Dhluwayo, die berig van die Diamond Fields Advertiser oor die voorgestelde verhoging gekritiseer.
Dhluwayo sê die berig kom misleidend voor. Mabilo het gesê: “Die voorstelling is heeltemal uit verband geruk. Die berig bevat nie die volle konteks nie.”
“Ons word deur wetgewing verplig om die voorlegging vir die begroting op die laaste 30 Maart aan die raad voor te lê. Die voorgestelde verhogings is nog nie finaal goedgekeur nie. Dit moet nog eers deur die raad hersien en gedebatteer word. Die voorlegging moet daarna ook met die publiek en gemeenskap bespreek word,” verduidelik Mabilo.
Voorts sê hy: “Ons kenners het hard daaraan gewerk om tariewe so laag as moontlik te hou. Nersa het ’n verhoging van meer as 15% aan Eskom toegestaan en ons wil dit afbring tot 11.4%. Dit beteken ons werk met ’n tekort van meer as 3.6%.”
Duurder elektrisiteitstariewe in die winter
“In plaas daarvan om ’n groter persentasie vir die hele jaar te hef, is dit ons voorstel om net gedurende die winterseisoen ’n verhoging toe te pas. Maar ons moenie die dam onder die eend uitruk nie, want die voorleggings is nog nie finaal nie. Die gemeenskap sal volgende week ’n kans vir kommentaar oor die tariefverhoging kry,” sluit Mabilo af.
Nersa het aangekondig Eskom kan moontlik tariewe vir die 2019/20 finansiële jaar met 9.41% verhoog.