Andrew Louw, premierskandidaat van die DA in die Noord-Kaap, sê die party het genoeg gehad van die hoë lewenskoste in die Noord-Kaap wat al hoe duurder raak.
“Die elektrisiteit gaan op. Die petrolprys gaan op. Kruideniersware kos meer. Ons kan dit nie net aanvaar nie. Hoe oorleef die mense wat nie werk het nie? Die Noord-Kaap is die provinsie met die meeste gevalle van kinders wat honger ly. Ons blameer die ANC-regering vir dit,” het Louw tydens ’n optog voor die Sol Plaatje-munisipaliteit gesê.
“As al die fondse wat na die regering en munisipaliteit toe gaan, soos die Sol Plaatje-munisipaliteit, eerder vir die regte doeleindes aangewend word, sal ons kan verbeter. As ons paaie en infrastruktuur verbeter, sal ons meer beleggers trek. Ondernemings sal goed doen en nie ondergaan nie. Werk sal geskep word.”
Louw het verder gesê as mense aangestel word op grond van hulle talent en kwalifikasies, in plaas van wie jy ken, sal die regeringsinstansies kan floreer.
“Ons mense betaal die prys vir die ANC wat ons in die steek laat. Ons mense kry swaar, sodat die ANC die fyner dinge in die lewe kan geniet. Ons mense word gekruisig vir die sondes van die ANC. Korrupsie en swak bestuur het die lewe ondraaglik gemaak. Ons sal dit nie verder vat nie. Daar is 20 jaar van korrupsie reeds verby, die ANC kan nie die land vorentoe vat nie.”
Louw het gesê die DA dring aan daarop dat die petrolprys moet verlaag en elektrisiteitstoevoer verbeter.
*Advertensie deur die DA