Tuimeltrein: Die nuwe jong stemme in Afrikaanse musiek

Lees ook :

Tuimeltrein

Oor hulle musiek en die band

Tuimeltrein is ‘n dinamiese duo wat die Afrikaanse musiekbedryf stormloop met hul vars klanke en unieke energie. Christian en Marice, die talentvolle lede van hierdie duo, het mekaar tydens Tienertoneel ontmoet, waar hulle beide hoofrolle in hul hoërskool se produksie van 180 Grade Celsius vertolk het. Die naam “Tuimeltrein” het ontstaan uit ‘n spontane opmerking van Marice voor ‘n toneelkompetisie, en dit pas perfek by hul avontuurlike benadering tot musiek.

Oor die nuwe liedjie “Grondboontjiebotter”

Die twee se inspirasie kom uit die alledaagse lewe en die omgewing om hulle, wat wissel van nostalgiese herinneringe tot die eenvoudige dinge wat vir hulle vreugde bring. Hierdie inspirasie is duidelik in hulle nuwe liedjie Grondboontjiebotter, wat ‘n simbool is om die nostalgie van die goeie ou dae te aktiveer. Die liedjie is aanvanklik binne 20 minute geskryf vir ‘n TikTok-video in September 2023 en verder in Maart vanjaar ontwikkel. Dit is verlede maand opgeneem by Tertius van CoolerBox Studios.

Christian en Marice balanseer hul musiekloopbaan met hul studies. Christian, wat tans ‘n eerstejaar mediese student aan Walter Sisulu-Universiteit is, maak seker toetsdatums word vroegtydig gedeel om tyd vir musiek te skep. Hy gebruik studiebreke en blokdae om tyd vir video’s te maak. Marice, wat in matriek is, balanseer haar musiek met laat aande en min slaap, aangesien sy baie lief is vir skool, maar nog liewer vir musiek is. Hulle familie en vriende is uiters ondersteunend en opgewonde oor hulle musiek.

Buiten musiek, het Christian ‘n liefde vir tale en skryf af en toe gedigte. Hy speel klavier en ukulele. Marice, wat ‘n kultuurdier is, is lief vir enigiets wat met die verhoog te doen het, soos toneel, dans, redenaars en debat. Sy stel ook belang in netbal en avontuuraktiwiteite. Sy het vir sewe jaar musieklesse gehad en het haarself met raad van ander geleer om snaarinstrumente te bespeel, met die ukelele as haar gunsteling.

Toekomsplanne en ambisies

Hulle toekomsplanne is groot en helder. Hulle droom daarvan om van ‘n ontwikkelingskontrak na ‘n volwaardige voltydse platekontrak te beweeg en vir so lank as moontlik mense met hul musiek te vermaak. Marice beplan om ‘n graad in die kunste te verwerf, terwyl Christian tans besig is met sy mediese studies. Hulle vertrou dat die Here hulle sal lei op die pad wat Hy vir hulle uitgelê het. Hulle is ook besig om saam met ATKV Tienertoneel ‘n projek aan te pak, waarvoor hulle ‘n liedjie oor simbiose gaan skryf ter viering van die ATKV se 60ste verjaardag.

Oor hulle musiekproses

Hulle musiekproses is ‘n samewerking van hul onderskeie talente en skryfstyle. Hulle het verskillende skryfstyle, wat ‘n tuimeltrein van emosies is. Onlangs het hulle die Teams-funksie ontdek, wat hulle in samewerking met hul AR, Stephan van Huyssteen, gebruik het om Grondboontjiebotter te verfyn. ‘n Groot musikale invloed is Bernice West, wie se musiek Christian geïnspireer het om klavier en ukulele te leer, terwyl Marice grootgeword het in ‘n huis waar alle genres van musiek gespeel word, alhoewel alternatiewe musiek haar gunsteling is.

Doen.Dit.Net.

Wat Tuimeltrein uniek maak, is hulle eerlike en egte benadering tot musiek – hulle skep klanke wat mense se harte raak en ‘n diep emosionele verbinding vorm. Hulle sê: “Doen. Dit. Net. Moenie opgee nie, en onthou dat alles op die regte tyd gebeur. Jou tyd sal kom, en dit gaan amazing wees!” Die musiek moet mense laat dans, glimlag, kliphard laat sing-skree en bymekaarbring.

Konneksies is vir hulle alles, en hulle glo dat daar baie is wat jong musikante van mekaar kan leer. Hulle moedig mense aan om nie bang te wees om te vra nie, want mens kan elke dag leer.

Luister Grondboontjiebotter hier:
https://www.youtube.com/watch?v=n-Li2YgZTo0

Besoek Tuimeltrein se sosialemediaplatform hier:

Instagram: https://www.instagram.com/tuimeltrein_/

Konsertbesprekings of medianavrae: https://selectmusiek.co.za/tuimeltrein/

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App