Twee Noord-Kaapse boere sterf toe bakkie in kanaal beland

Lees ook :

Rocco de Villiers (42) en André Pelser (43), twee vriende van Jan Kempdorp, is Saterdagoggend vroeg in ‘n ongeluk dood nadat die Toyota-bakkie waarin hulle gery het, in die kanaal by Ganspan beland het.

Daar word vermoed dat De Villiers, bestuurder van die landboumaatskappy GWK se handelstak in Jan Kempdorp, op slag dood is. Paramedici het Pelser aan die lewe probeer hou, maar hy het aan sy beserings beswyk.

De Villers was vir die afgelope nege maande met Marlize van der Merwe in ‘n verhouding.

Volgens Tersia van der Merwe (20), Marlize se dogter, het De Villiers vermoedelik beheer oor die bakkie verloor. Dis hoe hulle in die kanaal beland het. “Alles is nog ‘n raaisel omdat forensies eers Dinsdag of Woensdag ‘n volledige ondersoek sal doen. Oom Rocco het vir my die wêreld beteken.”

Tersia vertel dat sy besig was om toets te skryf toe die ongeluk gebeur het. “My ma het toe reeds al van die ongeluk geweet, maar wou ons nie ontstel nie. Hulle vermoed die ongeluk het ongeveer 06:00 gebeur.”

Tersia, wat haar pa in Januarie verloor het, vertel oom Rocco was vir haar soos ‘n tweede pa. “Ons was bitter lief vir hom en koester soveel herinneringe van en saam met hom. Hy gaan ‘n groot leemte vir baie mense los.

Sy beskryf De Villiers as iemand wat almal altyd tevrede wou stel en ondersteun. Hy was ‘n geliefde mens.”

Alhoewel sy nie vir Pelser goed geken het nie, vertel sy dat hy altyd almal kon laat lag en dat hy ‘n “lekker mens was om mee te kuier.”

De Villiers word oorleef deur sy twee kinders uit ‘n vorige huwelik, asook sy verloofde, Marelize, en haar kinders.

Pelser laat sy vrou, Karen Pelser, en sy twee kinders agter.

Volgens lt-kol. Mooi, provinsiale woordvoerder van die polisie, word die voorval ondersoek.

Marelize van der Merwe en Rocco de Villiers.
Andre en Karen Pelser met hul twee kinders.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App