’n Leerling aan die Kimberley Boys’ High is die naweek na bewering deur ’n groep bendelede – van wie nog op hoërskool is – vermoor.
Die 17-jarige Tshepiso Thompson was na bewering Sondagoggend op pad huis toe toe hy deur ’n groep jongmense genader is. Hy is van sy Adidas-skoene en denimbaadjie beroof. Hy is doodgesteek.
Bendelede meisies en seuns
Die verdagtes, agt meisies en sewe seuns, is later in hegtenis geneem.
Andrew Louw, die DA se provinsiale premierskandidaat, sê dit is tyd vir die gemeenskap om die strate terug te vat en ’n samelewing te skep waar misdadigers die owerhede vrees – en nie andersom nie.
Tweede tiener doodgesteek
Louw het sy skok uitgespreek omdat dit die tweede hoërskoolleerling is wat in die bestek van ‘n maand in Kimberley vermoor is. Hy het na die dood van Boniface Ndlovu, ’n voormalige leerling van die Sekondêre Skool Emmanuel verwys. Ndlovu is vir sy skoene, wat hy na sy matriekafskeid gedra het, vermoor. Hy is ook doodgesteek.
Polisiemag vir wet en orde
“Ons benodig ’n polisiemag wat sal verseker wet en orde word in ons gemeenskap gehandhaaf. Dit gaan oor my en jou toekoms.”
Kapt. Bashoabile Kale, polisiewoordvoerder, het gesê die polisieondersoek gaan voort. “Die verdagtes, waarvan sommiges voorheen uit was op parool, is steeds in aanhouding.”
FiND iT het met mnr. Graham Steele, skoolhoof van Boys’ High, gepraat. Steele wou nie kommentaar lewer nie, maar het bevestig Thompson was ’n leerling aan dié skool.