Tydperk verstreke vir besware teen beplande studentebehuising in Dalhamweg

Lees ook :

Enige besware teen die oprigting van studentebehuising in Dalhamweg in Klisserville moes reeds op die laatste 17:00 Maandagmiddag 4 Maart 2019 by die waarnemende munisipale bestuurder se kantoor ingedien gewees het.

Sol Plaatjie-munisipaliteit het op Maandag 11 Februarie 2019 ’n kennisgewing uitgereik waarin die munisipaliteit bevestig om erf 2715 en ’n gedeelte van erf 1178 in Dalhamweg in Klisserville aan mnre. NC Millenium Property Developers & Suppliers (Pty) Ltd vir die oprigting van studentebehuising beskikbaar te stel.

Thoko Riet, woordvoerder van Sol Plaatje-munisipaliteit, sê: “Die tender vir die bouwerk is uitgesit. Besware is by stadsbeplanning ingedien en die stadsraad gaan binnekort ’n finale besluit maak.”

Vrees vir ’n verlaging in herverkoopwaarde van eiendomme in die area

Dr. M. Zwiegers, ’n inwoner in Dalhamweg, sê: “Ek opponeer studentebehuising reg oorkant my huis vir verskeie redes. My huis is my pensioen en dit blyk dat dit my eiendom se waarde sal afbring. Geen waarborg kan gelewer word dat my huis se waarde sal styg nie. Navorsing in Bloemfontein met studentebehuising het bewys dat omliggende eiendomme se waarde verlaag het en nie toegeneem het nie.”

“Ek het my huis ingerig sodat daar waardetoevoeging vir my sal wees en as my waarde val, was hierdie waardetoevoegings verniet en tot my nadeel,” verduidelik Zwiegers.

Rustigheid van die woonbuurt in gedrang

Zwiegers sê : “Soos dit is, is Dalhamweg reeds ‘n resiesbaan en met studente gaan die pad nog besiger wees. My kind is drie keer omgery voor my huis, weens die feit dat mense jaag. Ek het dit gerapporteer en gevra vir spoedwalle, maar die munisipaliteit het gesê dis ‘n nasionale deurpad en hulle kan niks doen nie. Wat gaan nou daaraan gedoen word?”

“As ‘n reël is dit ‘n rustige area, maar studentebehuising gaan die rustigheid totaal versteur.  Daar is genoeg grond elders, nader aan die universiteit. Die grond was geoormerk vir ‘n ouetehuis, wat ideaal in die area sal pas en sal bydra tot die rustigheid en geskiedkundige aard van die omgewing,” sê Zwiegers.

“Dis ook duidelik dat daar nie ‘n tenderproses was nie en ek bevraagteken dit. Ek wil die proses van onderhandeling sien, sodat ek en my regsverteenwoordiger dit kan deurwerk,” sê Zwiegers.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief