Vaarwel R260-bybetalings op elektrisiteit sê burgemeester tydens vergadering met SPCF

Lees ook :

Patrick Solomon Mabilo

Na menige pogings het die Sol Plaatje-gemeenskapsforum (SPCF) op 28 Februarie 2019 daarin geslaag om met die uitvoerende burgemeester van Kimberley, Patrick Mabilo, te vergader om verskeie kwessies van die gemeenskap te bespreek.

Raad verwyder R260 basiese bybetaling op elektrisiteitsrekeninge

Mabilo het almal by die vergadering verwelkom en gesê: “Die basiese bybetaling van R260 vir elektrisiteit op munisipale rekeninge wat voorheen tydelik gestop is, is nou finaal deur die raad verwyder.  Ongelukkig was daar ’n vertraging om die aankondiging te publiseer.”

Bestuurspan aangestel om krisisse op te klaar

“Die stad word skoongemaak. ’n Beampte is aangestel om dit te verseker. Verder het ons twee bestuurders, mnr. Nlhapo en mnr. Hope, saamgespan om oplossings te vind vir enige krisis wat aan die munisipaliteit gerapporteer word,” het Mabilo gesê..

Blokkering van kragtoevoer nodig vir invordering van skuld

Mabilo sê: “Veranderinge in die kostes van dienste, indien enige, sal eerste aan die gemeenskap aangekondig word. Die blokkering van kragtoevoer aan besighede en selfs staatsinstansies was nodig om skuld vir dienste wat gelewer is te vereffen. Ek moes die gemeenskap oor die radio aanmoedig om voorsorg te tref om te verhoed dat hulle elektrisiteit afgeskakel word.”

Vrae of kontrak om besighede van water te voorsien verantwoordelik is vir watertekort in Kimberley

Die sekretaris van SPCF, Tumelo Mosikare, het aan Mabilo gevra of die rede vir die watertekort in Kimberley die gevolg is omdat vars munisipale water in plaas van gryswater vanaf Homevale-watersuiweringsaanleg na die gholfbaan, AR Abass-stadion en na die Kimberley-parke voorsien word. Mabilo het aangedring dat die vraag skriftelik ingedien moet word om die moontlikheid te ondersoek.

Plaaslike myn bring hoop om riool uit woonbuurt se strate te hou

Mabilo sê: “Werk wat deur Ekapa JV verrig word, bring hoop dat hierdie krisis effektief opgelos sal word. Daar is reeds daarin geslaag om ’n blokkasie oop te maak en hulle werk daaraan om die elektriese komplikasies by Gogga-pompstasie op te klaar.”

Beter oplossing vir hangende uitsettings gesoek

“Ons benodig ’n eenvormige oplossing vir behuising sodat ons nie deur lang prosesse vir elke area hoef te gaan nie. Ons moet saam met die gemeenskap werk om te verseker diegene wat behuising of grond benodig, kry toegang daartoe. Die persone wat die sisteem misbruik en voortdurend nuwe grond vat om te verkoop of uit te huur, moet stopgesit word.”

Mosikare sê die toegewydheid van die burgemeester om oplossing vir die kwessies te vind, word waardeer. “Verskeie onderwerpe soos die 106-verslag is nie bespreek nie. Soos op die vergadering bespreek, sal dit verg dat elkeen van ons ingryp om Kimberley ’n beter stad te maak, maar dis ook nodig dat die munisipaliteit, die munisipale bestuurders asook alle munisipale werkers toegewyd moet wees en hulle kant bring om hierdie stad beter te maak,” sluit Mosikare af.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App