KIMBERLEY. – Die vragmotorbestuurder wat Saterdag in die wrak vasgevang was, ná die vragmotor omgeslaan het, het minimale beserings opgedoen en word dalk vandag ontslaan.
Marcelle Barnardt en Ricardo Carelse van Aberdeen in die Oos-Kaap was in die vragmotor ten tyde van die ongeluk. Marcelle het beheer oor die vragmotor verloor nadat ’n voorwiel gebars het. Die vragmotor het sowat 15 km buite Kimberley, op die N12 na Kaapstad, in die veld omgeslaan.
Debbie Barnardt, Marcelle se vrou, sê hy het minimale beserings opgedoen. “Die Here se genade was baie groot. “Hy het net ’n gekraakte neus en die ligamente in sy duim is geskeur. Hy het gister ’n operasie ondergaan om die ligamente weer te heg. Marcelle sê hy word hopelik vandag ontslaan.”
Sy sê die dokter was reeds by Ricardo, die “agterryer” van die trok en hy behoort vandag ontslaan te word. “Die dokter het gesê hulle het hom opgeneem om hom te monitor.”

