Vrou byna beroof in Milnerstraat

Lees ook :

‘n Inwoner van Milnerstraat, Teresa de Wet, het vanoggend omstreeks 07:15 gesien hoe ‘n vroulike voetganger byna beroof is.

“Ek was op pad om te ry toe ek ‘n vrou histeries hoor skree. ‘n Man met ‘n Adidas-langbroek het met ‘n handsak onder sy arm verby my en ander mense in die straat gehardloop.”

De Wet vertel dat die voetganger agter die man probeer aanhardloop het, maar kon hom nie inhaal om haar handsak te probeer terugkry nie. “Ek kon seker agter hom aangehardloop het, maar ek was skrikkerig. Mens weet nie of hy dalk ‘n wapen het  nie.”

Die verdagte het in die rigting van St. Patricks College (CBC) in Hendersonstraat gehardloop waar iemand hom moes voorgekeer het, vertel De Wet. Die verdagte het van rigting verander en het weer in Milnerstraat afgehardloop. ‘n Vou in ‘n rooi kar, wat agter die verdagte aangery het, het hom  liggies met die kar teen sy bene gestamp.”

Die verdagte het hom vererg en die handsak op die grond neergegooi en weggehardloop.

De Wet sê dat sulke voorvalle soos dié haar onveilig in haar eie straat laat voel. “Ek en die kinders stap gereeld met die honde of die kinders gaan ry om die blok met hulle fietse. Nou is ek huiwerig om dit te doen of toe te laat.”

De Wet sê dat sy nie haar kinders van die voorval vertel het nie, omdat sy hulle nie wil bang maak nie.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App