Die polisie in Kimberley het Maandag vyf Lesotho-mans vir koperkabel, ter waarde van R7120, in hegtenis geneem.
Kapt. Tessa Jansen, ’n polisiewoordvoerder, sê: “Die polisie het ongeveer 09:20 Maandagoggend ’n wenk oor twee verdagtes met ’n inkopietrollie in die middestad ontvang. Beamptes het die verdagtes in Stockdalestraat vasgetrek. Hulle is met 29kg koperkabels ter waarde van R1120 in hulle besit gevind. Hulle kon nie verduidelik waar hulle aan die koper gekom het nie. Hulle is albei vir vermoedelike gesteelde goedere in hegtenis geneem.”
Later die dag het die polisie verdere inligting ontvang van ’n verdagte Swart Volkswagen met ’n Lesotho registrasie en drie insittendes. “Die polisie het ondersoek ingestel. Hulle het die drie Lesotho-mans by ’n skrootwerf vasgetrek. Al drie is vir gesteelde goedere in hegtenis geneem. Hulle is met 153kg koperkabels ter waarde van R6000 in hulle besit gevind,” sê Jansen.