“We verkenned Zuid-Afrika op een fiets.”

Lees ook :

Derduisende kilometers deur asemrowende dele van die wêreld en dit alles op ‘n fiets. Dít is waarmee ‘n Nederlandse egpaar op die oomblik besig is.
Saam gaan die egpaar oor die 7 000 km aflê. Dit alles om geld vir minder bevoorregte kinders in te samel.

FiND iT het Woensdagoggend met die egpaar in Kimberley gesels waar hulle vir twee nagte gaan bly.

Elbert Achtersraat en Syneke Vonk, albei 63, het op 20 Februarie in Kaapstad geland vanaf Amsterdam. Die egpaar het vir ‘n week die “asemrowende plek”, soos hulle dit beskryf verken, terwyl hulle vir hulle bagasie en die fiets, wat spesiaal vir hulle gemaak is, gewag het.


Hulle het op 28 Februarie, om vieruur die oggend in die pad geval om die duisende kilometers aan te durf.


Elbert vertel dat hy en een van sy vriende in 2016 besluit het dat hulle, op die ouderdom van 60, lus is vir ‘n nuwe uitdaging in hulle lewe. Hulle het toe besluit dat hulle vir ‘n hele jaar lank ‘n fietstoer gaan doen. Dié vriende het hulle roetes deeglik beplan en meer as 20 000 km in ‘n jaar afgelê!


Hulle het plekke soos Mongolië, Indië en Australia verken. “Ons het net vanaf Eikowada tot in Argentinië 12 000 km altesaam gery het.”


Elbert en Syneke het mekaar in 2018 deur gemeenskaplike vriende ontmoet. Hy het haar van sy avontuur op sy fiets vertel. Hulle was skaars vyf maande getroud toe die egpaar besluit het hulle wil ook so iets saam aanpak.


“Maar die keer met ‘n doel,” vertel Syneke. Hulle het navorsing gedoen en die organisasie, NET4KIDS ontdek. Die organisasie help minder bevoorregte kinders, met goeie huise, kos, klere en dies meer.


Die egpaar het toe besluit dat hulle ten bate van die organisasie wil ry en mense wil bewus maak van die organisasie met die doel om vir hulle geld in te samel.


Die toer gaan ongeveer vier maande duur en hulle hoop om teen einde Junie by die Victoria Falls, hul eindbestemming, te wees.


Die egpaar kan nie uitgepraat raak oor Suid-Afrika se mense wat so gasvry en behulpsaam is nie.
“Ons weet nooit wat elke dag vir ons inhou nie. As ons op ‘n dorpie kom wat vir ons mooi is, dan besluit ons dan en daar dat ons hier gaan slaap vir die aand. En die mense maak altyd vir ons plek!”


Elbert vertel hy lees ook graag ons koerant omdat Hollands baie soos Afrikaans is. “Sjoe maar julle het baie probleme hier neh? Orals waar ons kom hoor ons mense kla oor die krag!” lag hy.


Hy verduidelik dat hulle wel Afrikaans kan verstaan indien mense stadig praat.


Die egpaar reis met slegs een tas wat klere, ‘n tent, slaapsakke en kosmaak- gereedskap bevat.


Een van die hoogtepunte van hul toer sover was om in Beaufort-Wes, by een van die gastehuise waar hulle oornag het, ‘n baba springbokkie melk te gee.


Die egpaar beskou hulself as “world bikers”, en sê dat dit nie hul laaste toer is nie. Na die vier maande op ‘n fiets gaan die egpaar vir ‘n maand of twee, “hang af hoe lank ons kan stilsit”, terug Nederland toe voordat hulle Kairo aandurf.


En hoe dan anders as op hulle fiets!

Nuusflits.com moedig gesonde debat en vrye meningsuiting aan, maar behou die reg voor om enige kommentaar te verwyder wat haatspraak, laster, persoonlike aanvalle, diskriminasie, vulgêre taal of enige vorm van onwettige, beledigende of onvanpaste inhoud bevat.

Die menings en uitsprake in die kommentaar-afdeling is dié van die individuele skrywers en verteenwoordig nie die standpunte van Nuusflits.com nie.

Deur kommentaar te plaas, aanvaar gebruikers volle verantwoordelikheid vir die inhoud daarvan.

Subscribe
Notify of
guest
0 Comments
Oldest
Newest Most Voted
Inline Feedbacks
View all comments

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief