Die Santa Shoebox-projek wil probeer om dié jaar “Kersboks nommer 1 000 000” aan ’n minderbevoorregte kind uit te deel.
Dit is ‘n projek van ’n nie-winsgewende organisasie wat in 2006 in Kaapstad begin is. “Skenkers kan ’n kind van die webwerf af kies en met die hulp van die kind se persoonlike inligting, ‘n geskenk saamstel,” sê Janri du Plessis, die koördineerder van die projek. “Hulle skenk dan die geskenk aan die kind deur dit op ‘n gegewe tyd by die aflaaipunt af te laai. Die projek het oor 13 jaar van krag tot krag gegaan en hoop om vanjaar boks nr. 1 000 000 uit te deel.”

Vrywilligers
Sy sê die projek word deur vrywilligers gereël en is 100% afhanklik van skenkings. “In Kimberley gaan ons vanjaar poog om sowat 550 bokse vir behoeftige kinders in ons omgewing in te samel.”
Ten einde hierdie doelwit te bereik, wil ons graag ‘n bietjie gesonde kompetisie tussen die skole van Kimberley aanmoedig om te sien wie die meeste volledige bokse kan insamel. Ons wil egter nie net die skole aanmoedig nie, maar hoop ook om ‘n paar besighede te kry om mekaar dalk uit te daag om bokse te skenk, sê sy.
Die volgende is noodsaaklikhede vir die verpakking van ’n boks:
1. Skoenboks, geskenkpakkie, groot plastiekhouer of ’n houtboks
2. Seep
3. Waslap
4. Tandepasta
5. Tandeborsel
6. Lekkers (sweets)
7. Klere
8. ’n Nuwe speelding wat ouderdomgeskik is
9. Opvoedkundige benodigdhede (potlode, penne, sakrekenaar, woordeboek, telraam, ens.)
10. Enige ekstras is baie welkom
“Bokse kos gewoonlik tussen R300 en R400 om op te maak, maar kan in ’n spanpoging gedoen word om die koste te verdeel.”

Celebration Day
Sy sê die bokse moet volledig wees, omdat hulle nie die nodige fondse het om nog benodigdhede aan te koop vir bokse wat onvolledig is nie. “Ons wil seker maak dat geen kind uitmis op “Celebration Day” nie.”
Indien julle wil deelneem aan die projek of meer inligting benodig, kontak asseblief vir Janri by 072 344 6280 of janri@santashoebox.org.za.
