Wendy-huis benodig vir meer spasie

Lees ook :

Roani en Ryan Bowie is in Kimberley bekend vir die herwinningswerk wat hulle doen.  Hulle brei baie vinnig uit en benodig dus meer spasie. Hulle wil graag ’n Wendy-huis aankoop, maar het nie die nodige geld daarvoor nie.

Hulle herwin enigiets wat herwinbaar is – van blikkies, bottels, plastiek tot papier en glas.

“Ons wil graag ’n Wendy-huis kry, sodat ons daarin kan woon. Ons woon tans in ’n rondawel by die De Beers-karavaanpark, maar dit is nie baie groot nie en ons het nie regtig plek vir alles nie,” sê Roani.

“In dié stadium het ons onlangs eers die nodige toestemming by die eienaar gekry, dus het ons nog geen geld vir die huis nie. Ons benodig R31 000 om ’n huis van 6 m x 6 m te koop. Ons het baie rondgevra en uitgevind en hierdie maatskappy is die goedkoopste.”

Ryan sê die bouers van die Wendy-huis gaan in Kimberley moet kom woon totdat die huis klaar gebou is. “Die maatskappy is nie in Kimberley geleë nie, dus sal hulle hier moet kom woon vir ’n paar dae. Ons moet ook hulle akkommodasie vir daardie tydperk betaal.”

Indien daar enigiemand is wat die Bowie-gesin wil help met skenkings, kan julle vir Roani kontak by 065 192 9661.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App