VRYSTAAT. – ‘n Plaaswerker is vanoggend vroeg (Saterdag) tydens ‘n plaasaanval in die Heilbron-distrik doodgeskiet. Sy vrou (34) is seksueel aangerand en met ‘n mes gesteek.
Kapt. Loraine Earle, polisiewoordvoerder, sê in ‘n verklaring die vrou is na die wrede aanval onmiddellik vir mediese behandeling na ‘n plaaslike hospitaal geneem. Kort ná die voorval is ’n intense soekoperasie van stapel gestuur waartydens polisiebeamptes, die plaasgemeenskap, privaatveiligheidsdienste en ander belanghebbendes saamgewerk het. Binne enkele ure is dertien verdagtes, elf mans en twee vroue, in hegtenis geneem. Tydens die arrestasies is 22 gesteelde skape, ’n vuurwapen, ’n minibussie en huishoudelike items teruggevind.
Genl.maj. Solly Lesia, die waarnemende provinsiale polisiekommissaris, het die vinnige en gekoördineerde optrede van die polisie en ander rolspelers wat by die suksesvolle operasie betrokke was, geprys en dank uitgespreek.
Die verdagtes sal binnekort op aanklagte van moord, poging tot moord, verkragting, roof en veediefstal in die Heilbron-landdroshof verskyn.





