Alternatiewe provinsiale openingsrede
Hiermee die premierskandidaat van die DA vir die Noord-Kaap Andrew Louw, se alternatiewe rede:
20 Februarie 2019
Dames en here,
Wanneer ons die stand van ons provinsie in oënskou neem, is ek seker dat die meeste van ons sal saamstem dat die Noord-Kaap grootliks vergete en agterweë gelaat word.
Jy kan ons nie miskyk op ‘n kaart nie, want ons slaan ‘n derde van die land se grondoppervlak in beslag, maar ons word eerder beskou as ‘n hindernis as ‘n voorkeurbestemming.
Sny vervoerroetes uit
Ons word toenemend oor die hoof gesien vir geleenthede weens die ongunstige toestande in die provinsie. Ons het trouens so niksseggend geword dat selfs nasionale busoperateurs grootliks besluit het om ons uit hul vervoerroetes te sny. Dit is danksy ‘n kwarteeu se wanbestuur van plaaslike en provinsiale regering deur die mislukte en traak-my-nie-agtige ANC.
Ek wil my verstout om te sê dat die mislukte ANC-regering ons mense se grootste vyand geword het. In plaas daarvan om beleggings aan te lok, lok hul eerder korrupsie aan.
Die regering se onvermoë om ons munisipalteite behoorlik te bestuur beteken dat die Noord-Kaap van die hoogste elektrisiteitstariewe in die land het. Die hoë koste daarvan om besigheid te doen, gekombineer met die riool- en waterprobleme wat byna daagliks vererger, is struikelblokke tot groei en ontwikkeling.
Erge waterkrisis
Daar is tans ten minste ses munisipaliteite dwarsoor die Noord-Kaap wat ernstige waterkrississe beleef, wat grootliks te wyte is aan ontoereikende infrastruktuur en geldelike wanbestuur.
Die provinsiale paaie is nog ‘n hindernis tot belegging en groei, met sommige kontrakteurs wat selfs weier om sommige van ons landelike paaie te gebruik. Dit het ‘n geweldige impak op die provinsie se vermoë om landbouprodukte na groter gebiede uit te voer. Ons moet in ag neem dat, al is die Noord-Kaap ‘n landbouprovinsie, basiese produkte ook te duur word vir Jan Alleman.
Werkloosheid
Dit is ironies dat werkloosheid ons grootste probleem is en die mislukte ANC regering versuim om sulke kernkwessies aan te spreek, aangesien hierdie kwessies die potensiaal het om werkskepping te stimuleer en die lewens van Noord-Kapenaars te verbeter.
Die ANC se kortsigtigheid, hul gebrek aan visie, en hul onvermoë om vir die toekoms te beplan is besig om die mense van die Noord-Kaap in die voet te skiet.
Ek kan u die versekering gee dat ‘n DA-regering nie blind sal wees nie vir kwessies wat u lewensgehalte raak of wat die winsgewendheid en volhoubaarheid van u besighede raak nie. Dit is omdat die DA verstaan wat in die hartjie van ekonomiese welvaart lê.
Beurtwater
Trouens, met verwysing na die beurtwater wat Sol Plaatje sedert 2018 ingestel het, wil ek graag met u meedeel dat Kaapstad nooit beurtwater ingestel het nie – selfs in die middel van ‘n ernstige droogte.
Die Stad Kaapstad se reaksie op die droogte is nou ‘n handboekgeval wat ander internasionale stede gebruik om hul eie planne te formuleer. Dit is heeltemal anders as die benadering wat gevolg word deur die ANC-beheerde Sol Plaatje, wat die vervanging van beurtwater met ‘n gedeeltelike laedrukstelsel nie eers wil oorweeg nie.
Dames en here, die uitgebreide provinsiale werkloosheidsyfer is op ‘n onaanvaarbare piek van 38%.
Die Noord-Kaap se jeugwerkloosheidsyfer is 43%, wat die tweede hoogste is in die land.
Dit kom nie as ‘n verrassing nie – volgens die soekengine Adzuna is die Noord-Kaap die moeilikste plek in die land om werk te kry.
Jong mense wandel deur strate
Dit is vir my werklik hartverskeurend wanneer ek ons gemeenskappe besoek en sien hoe ons jong mense deur die dag deur die strate wandel, langs die pad sit of sommer net kaart speel omdat hul die geleentheid ontsê word om ekonomies aktief te wees en omdat hul hoop en toekomsdrome verbrysel is.
Die mislukte ANC-regering kon nie die koers van jeugwerkloosheid omkeer nie, ondanks eindelose werkswinkels en gespreksessies in die provinsie.
Miskien sou dinge anders daar uitgesien het as die Noord-Kaapse Youth Chamber of Commerce & Industry hul konferensies gebruik het om entrepreneurs te bemagtig eerder as om mekaar te verryk?
Onder ‘n DA-beheerde regering sal dinge heeltemal anders daar uitsien.
Die DA sien steeds die Noord-Kaap as ‘n provinsie van groot potensiaal.
Nodig vir ekonomiese groei
Ons het alles wat nodig is vir ekonomiese groei en ontwikkeling.
· Van vrugbare grond vir landboubedrywighede tot oorvloedige minerale wat verryk kan word tot ‘n kuslyn wat vir volhoubare visserye en diamantmyne gebruik kan word;
· Van eindelose toerismegeleenthede wat aangebied word deur ons beeldskone biodiversiteit, twee UNESCO Wêrelderfenisgebiede, en unieke kulturele erfenis
· Van die geleenthede in navorsing en ontwikkeling gebied deur die Sol Plaatje-universiteit en die Karoo se teleskope
· Tot ons unieke mense met hul warm harte.
Met die regte fokus, kan ons die Noord-Kaap verander. Waar dit ‘n ANC-beheerde oksel is, kan dit ‘n DA-beheerde vyf-karaat provinsie word.
Dit is nie leë woorde nie.
Die DA sal regverdige toegang tot ware, lang-termyn werksgeleenthede skep. Ons bestuursrekord bewys dat, waar ons in die Wes-Kaap regeer, ons dit regkry en die werkloosheidkoerse wat ander provinsie ervaar, op hul kop keer.
Die Wes-Kaap het die laagste werkloosheidsyfer in Suid-Afrika en is, wanneer mens na die uitgebreide definisie kyk, veertien persentasiepunte laer as die nasionale koers.
Werkskepping in die Wes-Kaap het ook met 24.8% tussen 2009 en 2018 gegroei, wat heelwat meer as as werkskepping wat teen 18.6% in Gauteng ervaar is en teen 8.8% in KwaZulu-Natal.
Die DA se suksesvolle ekonomiese rekord is grootliks te danke aan ons prosesse om burokasie te verminder en dit vir kleiner besighede makliker te maak om handel te dryf. Hierdie planne sal ons sonder oponthoud in die Noord-Kaap implementeer.
Om toegang tot ekonomiese aktiwiteit in die Noord-Kaap te verbreed, veral vir ons jeug, sal ons fokus op sektors wat die potensiaal het vir hoë groei, op die verlaging van hindernisse en die landelike impak.
Hierdie sektore sal die landboubedryf, toerisme, hernubare energie, die omgewingsvriendelike ekonomiese, die kleinskaalse mynboubedryf en verrykking van minerale insluit. In hierdie verband sal ons onder meer ekstra steun vir opkomende boere bewerkstellig deur vennootskappe met die landbousektor aan te gaan om, byvoorbeeld, toegang tot afsetpunte te verbreed en mentorskapprogramme in te stel. Ons sal ook meer strategies belê in die provinsie se vervoernetwerk, wat die lewensaar van die provinsiale ekonomie is.
DA wil ook die volgende doen:
Op ‘n provinsiale vlak, sal die DA ook die volgende doen:
· Ons sal befondsingsgeleenthede skep en burokrasie uitsny sodat klein besighede kan groei. Hiermee kan ons die huidige afname in kleinbesigheid-eienaars, wat SEDA vir ons uitwys, omkeer. Die aantal kleinbesigheideienaars het afgeneem van meer as 27 000 in 2016 na minder as 15 000 in 2017.
· Ons sal fokus daarop om volhoubare werksentra en ontwikkelingsentra vir klein besighede skep wat inligting, raad, en gratis internettoegang verskaf aan werksoekers. Dit sal mense wat nie data kan bekostig nie, bemagtig om werklike toegang tot werksgeleenthede te geniet.
· Ons sal spesiale aanmoedigingspakkette bied vir beleggers wat aan ‘n minimum vereiste werkskeppingsvereiste voldoen.
Op ‘n nasionale vlak, sal die DA ook:
· ‘n Vrywillige nasionale diensjaar instel met ‘n fokus op geleenthede in die polisie, gesondheidsektor en die onderwysstelsel. Dit bied ‘n jaar se gewaarborgde inkomste, ervaring en vaardigheidsontwikkeling vir skoolverlaters. U is bewus daarvan dat daar ‘n verband tussen werkloosheid en vaardighede is – hoe minder vaardighede of ondervinding jy het, hoe meer geneig is jy om werkloos te wees.
· Anders as die ANC, sal die DA ook beleidsekerheid skep deur eiendomsreg en die onafhanklikheid van die Resewerbank te waarborg.
Ek wil ook noem dat ek persoonlik nie die uitbuiting van mense wat geleenthede by die regering soek, sal duld nie.
Terwyl ek my Luistertoer oor die provinsie onderneem het, het ek met ‘n jong dame in Loxton gepraat wie vir my gesê het dat sy bang is om openlik haar steun te wys vir ‘n party anders as die ANC uit vrees dat sy haar deeltydse geleentheid in die gemeenskapsontwikkelingprojek sal verloor.
In my termyn as premier sal daar nie baantjies vir boeties wees nie. Werksgeleenthede sal regverdig toegedeel word, nie volgens politieke verbintenis nie. Terselfdertyd sal diegene wat geld of seksuele gunsies in ruil vir werk of onderhoud vra, aangekla en vervolg word.
Hierdie stappe klink dalk eenvoudig, maar dit is die eerste stappe tot sukses. Hierdie stappe het daartoe gelei dat die Wes-Kaap eiehandig die helfte van die werk skep wat verlede jaar in Suid-Afrika geskep is, en hierdie stappe sal dit vir ons moontlik maak om ‘n werk vir elke huis in die Noord-Kaap te skep.
Die Wes-Kaap se sukses het nie oornag gebeur nie en dit sal ook nie oornag gebeur in die Noord-Kaap nie. Maar ek kan u die gerusstelling gee – die ANC praat, die DA doen. En die DA werk baie sodat die mense van die Noord-Kaap ook kan werk.
Dit is omdat DA-beheerde regerings die onskendbaarheid van openbare fondse respekteer en die mense wil bedien. Dit is in skrille kontras met die mislukte ANC-regerings.
Ons weet wat die ANC se kaders ons provinsie gekos het.
Ons het inderwaarheid soveel monumente vir korrupsie dat hierdie gebou sommer deel van hul eie toerismeroete kan vorm!
Daar is byvoorbeeld die psigiatriese hospitaal van R2 miljard wat nog steeds sy deure moet oopmaak, al word daar nou al meer as ‘n dekade daaraan gewerk. Daar is die departement van vervoer, veiligheid en skakeling se Ocean Echo-glasgebou wat openlik die voormalige minister van finansies, Pravin Gordhan, se instruksies geïgnoreer het en ‘n hoogs opgeblase huurkontrak met die eienaars aangegaan het. Ons het die Noord-Kaapse provinsiale wetgewer wat onlangs R28 miljoen verkwis het aan opgraderings wat oënskynlik net gedien het om die gebou selfs verder te ontsier en net nog onveiliger te maak. As die toergroep in daardie rigting beweeg, onthou asseblief jul harde hoede.
Ons weet ook waar regeringsdepartemente gebruik word om korrupte netwerke te bou eerder as om verdienstelike entrepreneurs te bemagtig.
Dit het vir so ‘n rukkie gelyk amper gelyk asof die departement van Ekonomiese Ontwikkeling & Toerisme onder die leierskap van die LUR vir Finansies, Ekonomiese Ontwikkeling & Toerisme byna ‘n ware belang daarin toon om die gemors wat die krimineel John Block agtergelaat het, op te ruim. Maar dit lyk nou eerder asof hy net daarin belang stel om seker te maak dat die regte mense in die regte faksie die regte deel van die buit kry.
Die Noord-Kaapse departement van vervoer, veiligheid en skakeling het ‘n tweede taxi-bedryf in die provinsie geskep wat soos seerowers paralel aan die wettige bedryf hul sake doen. Bykans 300 onwettige taxilisensies is uitgereik. Inligting wil suggereer dat die amptenaar wat hiervoor verantwoordelik is, ‘n nabye familielid van die ANC-premier Sylvia Lucas is.
Selfs die ANC se provinsiale voorsitter en nommer een Zamani Saul het openlik die veroordeelde misdadiger John Block beskerm en gesê dat daar altyd plek sal wees vir hom in die ANC.
Wel, dit sê als. Geen hoeveelheid anti-korrupsie geselsies van president Cyril Ramaphosa kan ons ooit oortuig dat die ANC ernstig is daaroor om korrupsie te takel nie. Die ANC is net dieselfde stukkende bus, waarskynlik nog gesteel ook, met ‘n ander bestuurder.
Die DA stel nie daarin belang om hierdie patroon van korrupsie en staatskaping voort te sit nie.
Onder ‘n DA-beheerde regering, sal ons toesien dat enige persoon wat aan korrupsie skuldig bevind word, vyftien jaar tronkstraf opgelê word. En daardie vyftien jaar sal uitgedien word in die trunk, nie in die luuksheid van toesienerskwartiere wat spesiaal vir die verblyf skoongemaak en toegerus is nie!
So hoe sal ons die korrupsie hokslaan wat die geld vir dienslewering steel?
· Eerstens, op nasionale vlak, is dit die DA se doel om ‘n onafhanklike eenheid te stig wat alleenlik daarop fokus om korrupsie te identifiseer, te veg en te vervolg. Ons sal met die provinsiale strukture werk om toe te sien dat hierdie eenheid behoorlik toegerus word, met voldoende beamptes wat voldoende opgelei is, sodat hierdie mandaat uitgevoer kan word.
· Aan die teenkant sal ons ook fluitjieblasers beskerm wie korrupsie binne die regering rapporteer.
Ek het deur die jare persoonlik gepraat met amptenare wie diep ongelukkig is oor die misdadigheid wat diegene in magsposisies byna daagliks openbaar. Die meeste is te bang om misdade waarvan hul kennis dra aan te meld, omdat hulle te bang is dat hulle hul werk of selfs lewens sal verloor.
Dit kan nie wees dat ons in ‘n samelewing woon waar mense bang is om die waarheid te praat nie.
Dit kan nie wees dat ons ‘n regering bedryf wanneer die amptenare te bang is om die waarheid oor sy sake te openbaar nie.
· Derdens, om dit moeiliker te maak om korrupsie te pleeg, sal ons meganismes implementeer wat die deursigtigheid van regeringstransaksies bevorder. Dit sal verpligtend wees vir departemente om hul tenders van begin tot einde te adverteer en te detaileer watter maatskappye watter tenders ontvang.
Elke sent van die regering se geld behoort in die beursie van Suid-Afrikaners. Die regering moet dus ‘n akkurate, geloofwaardige kwitansie van alle transaksies kan gee.
· As deel daarvan om deursigtigheid te bevorder, sal ons ook gereelde leefstyloudits op politici en regeringsamptenare implementeer.
Baie van julle wat hier teenwoordig is, sou my al hoor praat het oor die noodsaak daarvan dat politici en openbare verteenwoordigers verantwoordbaar gehou word. Ek sal dus die eerste persoon wees wat myself onderwerp aan ‘n lewensstyloudit. Ek sal ook die eerste wees wat my munisipale rekeninge wys aan enige mediahuis wat daarin belangstel om te sien dat ek regtig nie agterstallig is met my munisipale rekeninge nie.
Moenie net my woord aanvaar oor die DA se standpunt teen korrupsie nie. Gaan lees bietjie op daaroor. U sal onder meer sien dat die DA, sedert ons beheer geneem het oor die hoofmetro’s, ‘n ware verbintenis tot die beëindiging van korrupsie getoon het.
Burgemeester Herman Mashaba se nuwe anti-korrupsie eenheid het R17 miljard in korrupte aktiwiteite ontbloot. Hy het ook meer as 2 400 sake van bedrog, korrupsie, diefstal en wanbestuur in slegs een jaar ondersoek. Daar was gevolglik 362 arrestasies, 15 skorsings en 27 afdankings.
Dit, dames en here, is omdat die DA werklik korrupsie wil hokslaan.
Dit is ook omdat die DA besef hoe belangrik dit is dat publieke fondse tot voordeel van die publiek aangewend word.
Laat ek hier stop om u te vertel dat, waar die DA regeer, ons alles in ons vermoë doen om die veiligheid van inwoners te verseker. Dit is omdat die DA glo dat alle Suid-Afrikaners veilig moet voel en veilig moet wees.
Baie min mense voel egter veilig in hul eie huise.
Dit is nie verbasend nie, wanneer mens in ag neem dat Statistiek Suid-Afrika se navorsing toon dat Noord-Kapenaars meer geneig is om slagoffers van roof en huisbrake te wees as mense van enige ander provinsie.
Om sake selfs te vererger is dit die persepsie van meer as 50% van die mense wat in die Noord-Kaap woon dat die polisie slegs na twee uur op ‘n noodoproep sal reageer, indien ooit.
Hierdie statistieke is onrusbarend, maar ek het dit persoonlik in my Luistertoer beleef.
Ek het met die ma van ‘n verkragtigingslagoffer van Galeshewe gesels. Sy vertel my dat die versuim van die polisie om betyds te reageer, meegebring het dat die verkragter op voet kon ontsnap nadat hy deur die gemeenskap aangekeer is.
Die indruk van gemeenskappe is ook dat die polisie blind is vir dwelmhandel. Dit is ondanks die feit dat dwelms oor ons grense die land inkom en ondanks die algemene gevoel dat die polisie hierby betrokke is. Ons kan slegs daaroor spekuleer en wonder wie hier beskerm word? Dit is nog ‘n mislukking van die ANC-regering.
Die DA kan nie die stand van veiligheid in die Noord-Kaap aanvaar nie.
Daar is steeds te veel polisiestasies sonder die basiese hulpbronne, infrastruktuur en toerusting om alledaagse misdaad te bekamp.
‘n Oorsiginspeksie aan Ritchie se polisiestasie het bewys hoe ‘n ernstige tekort aan voertuie beteken dat die polisie nie kan reageer op noodoproepe nie en ook nie sake kan opvolg nie.
Ongeveer 21 polisiestasies in die provinsie het ook nie slagoffervriendelike kamers wat deur die wet voorgeskryf word nie. Dit is 24% van die polisiestasies in die provinsie, wat beteken dat 1 in elke 4 gemeenskappe steeds nie die vlak van diens en beskerming geniet wat hul toekom nie.
Dit is kommerwekkend dat dit die stand van sake dwarsoor die provinsie is.
Die DA sal die Suid-Afrikaanse Polisiediens hervorm om ‘n eerlike, professionele organisasie word wat werklik al die mense van Suid-Afrika bedien en beskerm.
Waar ons regeer, doen ons reeds alles wat ons kan om mense te beveilig.
Terwyl die Nelson Mandela baai steeds onder die DA se beheer was, het die party vinnig die metro se eerste polisiedepartement geloods en 114 nuwe, volledig opgeleide beamptes het die strate ingevaar om gemeenskappe te beveilig.
In die Wes-Kaap het ons bronne vir die metropolisie vermeerder en ons pogings om bendes en dwelms te bekamp het reeds vrugte afgewerp.
Provinsies het egter beperkte mag oor wat hul kan doen in terme van polisieëring. Op ‘n nasionale vlak sal die DA provinsies dus regte mag gee deur ‘n provinsiale polisiemag wat die spesifieke misdade wat in elke provinsie hoogty vier, kan aanspreek.
Dienslewering
Kom ons kyk na dienslewering.
Afgesien van die probleme met water, elektrisiteit en sanitasie, waarna ek reeds verwys het, is daar ook die kwessie van behuising.
Tydens my Luistertoer het ek vertoef by ‘n man in sy sewentigerjare van Karos. Sy enigste toevlug is ‘n rietstruktuur, wat hom skaars van die elemente kan beskerm. Hy het my vertel dat sy grootste behoefte is om ‘n dak oor sy kop te hê voordat hy sterf, sodat sy kinders en kleinkinders ‘n lewe met meer waardigheid kan leef. Dit het my diep geraak.
Ek kan trouens vir ure praat oor diensleweringsmislukkings van die mislukte ANC-regering, maar ek sal ter wille van die tyd slegs fokus op die mislukkings in die provinsiale gesondheidsorg.
Gesondheidsorg in die Noord-Kaap was nog nooit so swak nie. Die gesondheidsdepartement is basies bankkrot en kan nie diensverskaffers betaal nie. Ons sien dus dat fasiliteite nie medisyne of voorraad het nie, maar ook nie personeel nie en ook nie voldoende toerusting nie. Ambulanse is ook maar net leë doppe en nooddienste bestaan bykans nie.
Maak mense dood
Die ANC regering se mislukkings is besig om ons mense dood te maak.
Die ANC het, in kort, nie hul beloftes nagekom nie. Hulle het teruggesit en eerder omgegee oor hul selfverrykking as oor die verryking van die lewens van die mense van die Noord-Kaap.
Ek sal graag verder wil uitbrei oor wat die DA als sal doen om die alledaagse probleme op te los wat ons mense elke dag in die gesig staar. Maar ek wil u almal aanmoedig om die DA se loods van ons verkiesingsmanifes Saterdag in Gauteng te volg. Dit sal fokus op regverdige en oop toegang tot ware werk; op die hokslaan van korrupsie; op die versnelling van basiese dienslewering; op die beveiliging van ons grense en op die skepping van ‘n eerlike, professionele polisiediens.
Dit sal vir u veel meer besonderhede gee as wat ek vandag kan gee en sal wys net hoe die DA van plan is om hoop te bied en verandering te bring wat werklik Een Suid-Afrika vir Almal sal kan bou.
Dankie.