Wonings in gedrang weens verstopte stormwaterdreine

Lees ook :

Onlangse reën is ’n seën vir Kimberley, maar vir die inwoners van Beaconsfield is dit ’n nagmerrie.

Verskeie stormwaterdreine in Kaapstadweg, Bartle- en Frereplek is verstop. ’n Inwoner van die area sê: “Ons bid vir die reën, want ons het dit nodig. Maar wanneer dit reën, oorspoel Kaapstadweg en die hele buurt is onder water. Die stormwater kan nie wegspoel nie, omdat die dreine met onkruid en sand geblok is. Sol Plaatje-munisipaliteit doen niks om ons te help nie.”

Inwoners het FiND iT tot by ’n geblokte drein op die hoek van Frereplek en Kaapstadweg gebring. “Hierdie drein is beskadig nadat Sol Plaatje-werkers herstelwerk gedoen het. Nou is dit vol sand en hulle het dit net so gelos,” verduidelik ’n inwoner.

Projek om buurt skoon te hou

Nog ’n inwoner het aangesluit en gesê hy het verskeie kere probeer om die drein self oop te kry, maar was onsuksesvol. Voorts sê hy: “Ek is selfs bereid om met behulp van die nodige ondersteuning ’n projek aan te pak om die buurt skoon te maak.”

FiND iT het die munisipale bestuurder, Boy Dhulwayo, vir kommentaar genader. Hy het sy ingenieur gevra om terugvoering te gee.

Dreine verstop weens onwettige rommelstrooiery, sê munisipale ingenieur

Thabiso Raseobi, ’n ingenieur by die munisipaliteit, sê: “Volgens die munisipaliteit se instandshoudingskedule word die stormwaterstelseldreine ten minste een keer per jaar skoongemaak. Die stormwaterstelsel benodig meer gereelde instandhouding weens onwettige rommelstrooiery deur die gemeenskap, slik wat in vangputte spoel, vangputte wat te klein is, lae hellings en trokke wat oor die dreine ry.”

Voorts sê hy: “Ons sien dadelik om na blokkasies wat onder ons aandag gebring word. In so ‘n geval word die instandhouding buite die beplande skedule gedoen. Ons het onlangs instandhouding in Beaconsfield gedoen, maar ons fokus was hoofsaaklik op dreine in die strate omdat hulle meer gereeld geblok word en omdat ons voorheen klagtes van die inwoners ontvang het.”

Transnet verantwoordelik vir stormwaterstelsel onder spoorlyn

“Die munisipaliteit kon ongelukkig nie toegang tot sommige van die dreine kry nie. Van die dreine loop onderdeur die spoorlyn in Kaapstadweg en val onder die jurisdiksie van Transnet. Ons het met hulle gereël om die geaffekteerde dreine waarvoor hulle verantwoordelik is, te herstel,” verduidelik Raseobi.

“Alle klagtes word so spoedig moontlik opgevolg. Die munisipaliteit sien alle klagtes as ernstig en daar word onmiddellik aandag gegee, indien nodig hulpbronne beskikbaar is,” sluit hy af.

Geen klagte vanaf munisipaliteit ontvang nie, sê Transnet

Mike Asefovitz, ’n woordvoerder vir Transnet sê: “Ons is nie bewus van enige probleme met die stormwaterstelsels waarvoor Transnet verantwoordelik is nie. Ek het met my kolegas bevestig. Ons het ook geen amptelike klagte vanaf die munisipaliteit ontvang nie.”

Voorts sê hy: “Daar hardloop stormwaterpype onderdeur die pad by al twee twee duikweë. Dit is openbare paaie en die munisipaliteit is daarvoor verantwoordelik.”

“As ’n verantwoordelike maatskappy volg ons ons instandhoudings-skedule stiptelik. Waar stormwaterstelsels op ons eiendomme bestaan, wat deur ons ontwerp en gebou is, word daar ’n bestuursplan opgetrek en word die stelsels noukeurig op ’n gereëlde basis gemonitor. Ons toets selfs gereeld die water wat by ons eiendomme uitloop,” sluit Asefovitz af.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief