Die sangeres Nádine het haar stilte rondom die beëindiging van haar en Derick Hougaard se verhouding Sondagmiddag op sosiale media verbreek.
“Sommige Sondae ry mens wye draaie om verkeersligte waar jy gedrukte media kan koop. Ek is nie gebel nie. Ek is nie gevra nie. Ek stop net langs ’n tannie en lees dan maar saam, het sy haar Facebook-plasing begin.
Dit volg nadat Hougaard in ’n eksklusiewe onderhoud aan ’n Sondagkoerant vertel het Nádine het hom as gevolg van sy afhanklikheid gelos.
Die paartjie wat sedert 2018 ’n aan en af verhouding het, was Junie 2023 in die nuus toe Hougaard weens ’n longinfeksie in ’n koma beland het. Nádine het destyds vir almal se gebede vir sy beterskap gevra.
Hy het ook in ’n reeks, Liefling van Loftus, wat vir kykNET vervaardig is, oor sy verslawing aan pille gesels.
Nádine sê in haar inskrywing: “Die gat in mens se hart is vir sagte oë bedoel. Gedeelde seerkry is nie minder seerkry nie … en jou hart voel maar wat hy voel.”
“Wees mekaar begenadigd. Wees sag,” vra sy.

Bronne: Nádine Facebook-bladsy, kykNET





