Zelda en Craig Pentz van Roodepoort het tien jaar lank aan God se belofte vasgehou voordat hulle ’n voltermyn swangerskap kon ervaar en uiteindelik ’n babadogtertjie in hul arms hou.
Ek en my man Craig het sedert Mei 2012 probeer om swanger te raak. Eers vyf jaar later, op 24 Januarie 2017, het ons vir die eerste keer ’n swangerskaptoets gedoen wat ’n positiewe resultaat opgelewer het. Ons was verheug en oneindig dankbaar.
Maar drie dae later moes ek ’n prosedure in die hospitaal se teater ondergaan waartydens my baarmoeder ná ’n miskraam geskraap is. Die tweede positiewe toets het eers baie maande later gevolg, iewers in September 2018. Maar alles was nie pluis nie en vroeg die volgende maand moes ons weer die hartseer van ’n miskraam beleef.
Op 27 Julie 2019 het ons hoop weer opgevlam toe daar ’n positiewe toetsuitslag was, en alles het aanvanklik belowend gelyk. Maar vroeg in September, tydens ’n doktersbesoek, was daar geen waarneembare hartklop nie en daar moes weer ’n skraap uitgevoer word.
Teleurstellings, en ’n groot skok
Ons het besef ons moet ander opsies oorweeg, en daarom het ons vroeg in 2020 met vrugbaarheidsbehandeling begin. Die ginekoloog het die middel Clomid voorgeskryf. Ek was 33 toe ons begin hoop het dat dié vrugbaarheidsmiddel ovulasie sou stimuleer. Ek het egter nie swanger geword nie, en die dokter het Femara voorgeskryf.
In Oktober 2021 is al die vrugbaarheidsbehandeling gestaak aangesien daar geen positiewe reaksie op die medikasie was nie. Volgens die medici was daar geen volwasse eiers wat gereed was om tydens ovulasie vrygestel te word nie.
Groot was ons skok toe ons kort hierna moes aanhoor dat die bloedtoetse aandui dat ek my in ’n vroeë menopouse bevind. Ek was 35 jaar oud, sonder enige hoop op ’n eie baba.
Hierdie gevoelens van verlies en teleurstelling, van die wete dat die medikasie nie gewerk het soos ons gehoop het dit sou nie, wens ek nie my grootste vyand toe nie.
Alternatiewe, en toe …
Omdat natuurlike swangerskap nie meer moontlik was nie, wou ons dokter ons na ’n moontlike eierskenker verwys. Dit sou beteken dat ek dan kan swanger raak met ’n geskenkte eiersel en my man se sperm. Ek het egter in my hart geweet dat dit nie die pad vir ons is nie.
LEES OOK: ‘Deel van my sterf saam met my baba, maar God bring weer vreugde deur surrogaatma’
Ons het toe die moontlikheid van aanneming oorweeg. Dit het nogal lank geduur voordat ons die regte aanneming-agentskap gevind het wat saam met ons die pad sou stap. Ons was amper klaar met al die voorbereidings, onder meer kursusse en polisieklarings en verhoudingsanalises, toe iets wonderbaarliks gebeur: Ek was swanger!
Dit was September 2022. Ons was uit die veld geslaan. En hierdie keer het alles uit die staanspoor perfek verloop. Ons het ’n gesonde dogtertjie verwag, en sy is op 37 weke gebore – volmaak, ’n geskenk van God.
’n Voorsmakie van die ewigheid
Ek het onthou hoe ek destyds, te midde van al die doktersafsprake en behandelings en verliese, ’n droom gehad het. In dié droom het ek op ’n sokkerveld gestaan toe Jesus van agter die telbord na my toe aangekom het. Hy het my gesig tussen sy hande vasgevat, my sagweg opgelig en gesê: “Alles sal oukei wees.”
Die vrede wat ek daardie nag beleef het, sal ek nooit vergeet nie. Dit was as ’t ware ’n voorsmakie van hoe dit in ons ewige tuiste sal wees.
Die ontmoetingsplek in die droom was wel vir my baie vreemd. Craig is ’n ywerige sokkerondersteuner; ek hoegenaamd nie. Dit sou eerder sin gemaak het as ek Jesus in my droom in ’n veld vol blomme ontmoet het.
Vroeër het ek, tydens ’n naweekwegbreek saam met Craig, die naam “Ilia” in my hart gekry. Ek het dit gaan opsoek en gesien dit beteken “God is die Here”. Ons het toe besluit dat as ons ooit ’n dogter sou hê, haar tweede naam Ilia sou wees. En vandag dra ons dogtertjie daardie naam as ’n herinnering aan God se belofte en sy trou.
As ek nou op alles terugkyk, onthou ek die lied waarna ek daardie tyd baie geluister het, “Tussen woorde” van Juanita du Plessis. Dit het my nader aan God laat voel, dit was amper soos ‘n gesprek tussen Hom en my. Ná ons dogter se geboorte het hierdie lied ’n gesprek tussen my en haar geword.
Deur al die pyn en die verliese en die gewag op ‘n antwoord, het ons aan Jesus se belofte vasgehou – “alles sal oukei wees”. Hy was getrou. Aan God kom al die eer toe, Hy is die Allerhoogste.
Om meer getuienisse op LiG te lees, kliek hier.
Vrywaring: Nuusflits publiseer advertensies en geborgde inhoud vir bemarkingsdoeleindes. Die sienings en aansprake wat in advertensies geuiter word, weerspieël nie die standpunte van Nuusflits, sy redaksie, of enige van sy affiliasies nie.





