PAARL, WES-KAAP. – In die hartjie van die Paarl is daar ’n plaaslike inwoner wat nie ken van moed opgee nie. Hy is ’n aanhouer en omgeemens, die gom wat sy vriende en familie bymekaarhou. Sy naam is Johan Sadie (44).
Johan het dertien jaar gelede die besluit geneem om terug Paarl toe te trek toe sy pa oorlede is. “Ek sal na my ma omsien, tot sy nie meer hier is nie,” vertel hy.
Hy het meer as 19 jaar se ervaring in die wyn-en-voorraadbeheerbedryf, wat die logistiek, vervaardiging, verpakking en versending daarvan behels. Hy beskik ook oor ’n geldige vurkhyserlisensie.
“Ongelukkig is ek einde 2019 net voor die Covid-epidemie by my vorige werk afgelê nadat nuwe bestuur oorgeneem het.” Dit het hom gedwing om selfonderhoudend te wees.
Sedertdien help hy besighede in die Paarl-omgewing met klein werkies om hulle lewe makliker te maak. “Die ekonomie is egter deesdae van so ’n aard dat besighede my nie meer kan huur nie; daar is doodeenvoudig nie meer geld daarvoor nie.”
Johan het die afgelope ruk oral op die internet na meer stabiele en standvastige werk begin soek. “Ek het letterlik ’n lys van al die besighede in die vervaardiging, logistieke en voorraadbeheerbedryf in die Paarl-omgewing gemaak en my CV na hulle uitgestuur.”
Hy het in 1998 aan Paarl Gimnasium gematrikuleer, waarna hy IT by Prestige College gaan studeer het. “My pa het my aangespoor om dit te doen. Destyds het ek en vier van my vriende dit saam begin doen. Ek het vinnig besef dat dit nie vir my is nie, maar is dankbaar vir die opleiding. Veral in vandag se wêreld.”
Daar is niks so lekker vir Johan as om die hele proses te sien ontvou waarby rou grondstowwe betrokke is nie. “Dit is ’n goeie gevoel om deel van die kwaliteit-keuring van die grondstowwe te wees, om die vervaardiging te sien gebeur, om te help met die verpakking van die finale produk soos wat die kliënt dit wil hê.”
Volgens Johan is daar deesdae ’n tendens om jonger mense aan te stel wat nie noodwendig die ervaring het waaroor hy beskik nie. “Dit is vir ’n maatskappy makliker om iemand met minder ondervinding aan te stel en dan ’n kleiner salaris aan te bied.”
Hy moedig jongmense aan om nie te vinnig in die eerste beste rigting te gaan studeer nie. “Ek was vir twee jaar oorsee en het daar my passie vir die logistieke en vervaardigingsektor ontdek.”
Een van die uitdagings in sy werksoekproses is definitief die area waarin hy wil bly. “Ek het die verantwoordelikheid om na my ma om te sien en doen dit met liefde. Dertien jaar gelede het ek die besluit gemaak om terug te trek en het nooit die paadjie van trou en kinders-kry gestap nie.” Hy beskryf die Paarl-mense as “sy” mense, juis omdat sy ouers voor sy pa se dood al vir jare Paarliete was.
“Ek lewe volgens die ‘gee-uit-jou-hart’-beginsel. Nie omdat ek iets terug verwag nie, maar omdat dit deel is van wie ek is,” vertel hy. “Al wat ek soek, is weer ’n voet in die deur. ’n Kans op ‘n stabiele inkomste.”
Sy ideale pos is in die Paarl/Stellenbosch/Franschhoek/Wellington-omgewing omdat hy in die Paarl woon. Enige werk in die logistieke, pakhuis-, voorraadbeheerbedryf val binne sy ervaringsveld. Die wyn-of vrugte-industrie sal ’n bonus wees.
Johan Sadie kan by 084 974 9015 gekontak word en sy CV kan hier besigtig word: https://www.linkedin.com/in/johan-sadie-9554161b5/
’n Volledige CV met verwysings is ook by hom op aanvraag beskikbaar.





