JOHANNESBURG. Springbokke teen All Blacks het ná rustyd heeltemal van rigting verander. Die Springbokke se fisieke oorheersing van die eerste helfte het verdwyn toe die All Blacks momentum oorgeneem en uiteindelik die wedstryd behoorlik in hulle guns geswaai het.
Volgens Nuusflits se rugby-adviseur, Jhandré Bredenkamp, sal die Bokke veral spyt wees oor die geleenthede wat hulle nie benut het toe hulle die wedstryd nog beheer het nie.
“Die Bokke het al daardie geleenthede gehad, en toe gee hulle ’n baie sagte drie weg ná ’n charge-down. Van daar af het die momentum geskuif.”
Skrum verloor sy skerpte
Die skrum, waar Suid-Afrika vroeër die oorhand gehad het, het daarna meer gelykop geword en die Bokke se fisieke voordeel het begin verdwyn.
Die All Blacks het met verloop van die tweede helfte al hoe sterker geword en teen die einde die Springbokke oorheers.
Twee geel kaarte het Suid-Afrika se taak verder bemoeilik en die Bokke se fisieke vermoë om die All Blacks te stuit, ernstig geknou.
Nog drie toetse voor
Bredenkamp meen die uitslag moet egter ook erkenning gee aan die besoekers.
“Welgedaan aan die All Blacks. Dit was ’n behoorlike oorwinning teen die Springbokke.”
Dit was die eerste toets van die vierwedstrydreeks tussen dié twee groot rugbyvyande, met nog drie wedstryde wat voorlê.
(Sky Sports)





