NOORD-KAAP. – Die Calvinia-landdroshof het Vrydagmiddag beslis dat Shupren Ouers (19), wat van die moord op Hesty-Ann Green (18) beskuldig word, tot 29 Januarie 2024 in aanhouding sal bly nadat sy borgaansoek vir die moordklag onsuksesvol was.
Volgens sers. Mojalefa Senokoatsane het die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) ’n klagte van poging tot verkragting by die moordklag gevoeg. Beide is skedule 6-oortredings.
Nikolas Swartz, Green se oom, het Vrydag oor die gebeure rondom die ontdekking van Green se liggaam op Oujaarsdag getuig. Haar naakte en bebloede liggaam is Oujaarsoggend op Brandvlei in ’n vervalle crèche onder stukke plafon en klippe gevind. Sy het die vorige aand ’n danspartytjie op die naburige sportterrein bygewoon. Volgens Swartz was die linkerkant van haar kop vergruis.
Shupren Ouers, oorspronklik van Brandvlei, het in Engels getuig. Hy is aanvanklik die oggend toe Green se liggaam ontdek is, op die toneel ondervra omdat hy ’n vreemde besering aan die agterkant van sy kop gehad het. Volgens hom het ’n klip hom by die danspartytjie getref.
Ouers is na die ondervraging na Kaapstad waar hy op 8 Januarie by sy werksplek in hegtenis geneem is.
Die staat is nou in besit van die patologiese verslag en die uitlegplan van die gebou waar Green se liggaam ontdek is.
Nikolas Swartz het bevestig dat Green en Ouers aan vaderskant neef en niggie is. Ouers verskyn weer op 29 Januarie in die hof wanneer sy borgaansoek vir die poging tot verkragtingsaak aangehoor sal word.
Bronne: SAPD, Isaac Cloete Facebook-blad, OFM, Nikolas Swartz





