GAUTENG. – Die gewilde sanger, Riaan Benadé, wat gisteraand met ‘n hele paar toekennings by die Coleske Groep se toekenningsaand weggestap het, het vir groot opgewondenheid gesorg toe hy sy nuutste musiekvideo vir die liedjie Stoom by Ons Tuis Emily Hobhouse opgeneem het.
Daleen Gouws, woordvoerder vir Ons Tuis-tehuise, sê die opgewondenheid in die lug was tasbaar en ‘n kameraspan sowel as ‘n grimeerspan het daartoe bygedra.
Dele van die musiekvideo vir Benadé se liedjie Stoom is vandag te midde van die senior inwoners se afwagting opgeneem.
Gouws sê Melissa Benadé, Riaan se vrou, het opgewonde oor die musiekvideo vertel. Sy en Riaan wil as senior inwoners wegglip om roomys te gaan eet, maar dit word deur ‘n verpleegster bemoeilik.
“Daar is ook sprake van ‘n outydse motor en ‘n grondpad… maar hulle kan nie te veel verklap nie.”
En hoekom is Ons Tuis Emily Hobhouse in Capital Park, in die Moot van Pretoria, vir die opneem van die video gekies?
“Dit is soveel makliker om ‘n authentic storie te vertel by ‘n tehuis met ‘n mooi gebou en met hope karakter. Daarom het ons gekies om die video by Ons Tuis te kom skiet,” sê Johan C Venter van Coleske Groep, wat die uitvoerende vervaardiger van die produksie is.
“Ons Tuis is baie bevoorreg om Benadé en sy span vandag hier te verwelkom,” sê Anelieze Treurnich, die bestuurder van die sentrum.
Gouws sê Ons Tuis se fasiliteite bied bekostigbare, gehalteverblyf aan vir persone bo die ouderdom van 50.
“Ons erken die behoefte aan veilige, geborge akkommodasie vir ouer persone en daarom bied ons ‘n verskeidenheid verblyfopsies: van selfsorgeenhede tot gespesialiseerde sorg en dienste vir persone wat aan Alzheimer se siekte of demensie ly. Elk van die agt tehuise van Ons Tuis, in drie van SA se provinsies, spog met uitnemende residensiële fasiliteite.”


