WES-KAAP. – Die soektog na Joslin Smith (6) van Saldanhabaai is slegs afgeskaal, maar nie afgelas nie.
Lt.kol. Malcolm Pojie sê die soektog is slegs afgeskaal omdat alle leidrade opgevolg, alle hulpbronne gebruik en daar tans steeds geen spoor van Joslin is nie. Pojie sê die ondersoekspan volg steeds dag en nag alle inligting wat hulle ontvang, op.
Die publiek word weer gewaarsku teen onbevestigde en ongegronde gerugte wat die beweerde betrokkenheid van persone in haar verdwyning insluit. Pojie waarsku hierdie tipe gerugte is slegs beweringe wat ‘n nadelige effek op die ondersoek en hulpmiddele wat ontplooi is, het, omdat dit die ondersoek omvergooi en waardevolle hulpbronne uitput.
Inwoners van dorpe om Saldanha word gevra om nie in groot getalle in die soeke na Joslin op te daag nie.
Pojie bevestig deur tot deur soektogte is reeds Saterdag voltooi en die ondersoekspan sal steeds op konstruktiewe inligting wat ontvang is, reageer.
Die ondersoek duur voort.





