Waarskuwing! Die berig kan sensitiewe lesers ontstel.

NOORDWES. – ‘n Man (64) en vrou (49) is Woensdagoggend omstreeks 02:00 op ‘n kleinhoewe buite Mooinooi deur twee onbekende verdagte mans oorval en aangerand.
Lt.kol. Amanda Funani sê die polisie ondersoek twee sake van poging tot moord en ‘n huisroof. Die twee verdagtes het toegang tot die kleinhoewe verkry deur ‘n gat in die heining te knip.
Die man en vrou het na bewering hulle honde hoor blaf en het uitgegaan om ondersoek in te stel. Hulle het glo twee verdagtes gesien en hulle verjaag, waarna die man die heining inspekteer het. Terwyl hy besig was om die heining reg te maak, het die verdagtes hom met bakstene aangerand. Hulle is daarna glo in die huis in waar die vrou ook aangerand is.
Die verdagtes het met onder meer ‘n televisiestel en skootrekenaar van die toneel gevlug.
Kol. Funani sê nog geen inhegtenisnemings is gemaak nie en die ondersoek duur voort.
Volgens Brits Pos is hulp per radio ontbied waarna daar op die erg beseerde man en vrou afgekom is.
Angelique Albrecht en Quen Chan Stigling het die voorval, wat wyd op sosiale media gedeel word, in kommentaar bevestig. Dit is hulle pa en stiefma wat tydens die voorval beseer is. Stigling het gesê sy pa is kritiek en het swelling op die brein, maar sy stiefma is vir haar beserings behandel en reeds ontslaan. Sy het voorbidding vir hulle gevra.
Bronne: SAPD en Brits Pos





