LIMPOPO. – ’n Bejaarde man (72) is op 23 Maart gekaap, ontvoer, beroof en het later aan sy beserings gesterf. Twee verdagtes, wat die oorledene se dogter insluit, is gearresteer.
Makubung Mohomotsa Gisbon is omstreeks 22:00 gekaap en ontvoer toe hy met sy silwer Toyota RunX by sy huis in die Apel-polisiëringsgebied aangekom het. Die saak is by die Apel-polisie aangemeld, waarna die provinsiale ondersoekeenheid die ondersoek oorgeneem het. Die bejaarde is na twee dae se volgehoue soektog met ernstige liggaamsbeserings naby sy voertuig in bosse gekry. Sy waardevolle items was vermis. Hy is na die naaste hospitaal geneem waar hy op 1 April aan sy beserings beswyk het.
Kol. Malesela Ledwaba sê Molatudi Mossion Marwale (42) is in hegtenis geneem en het reeds op 28 Maart in die Sekhukhune-landdroshof voorgekom. Hy is steeds in aanhouding. Die ondersoek het tot die oorledene se dogter (36) se inhegtenisneming gelei. Die verdagtes sal op 22 April op aanklagte van motorkaping, ontvoering, moord en roof in die Sekhukhune-landdroshof verskyn.
Die ondersoek duur voort.
Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by [email protected]


