OOS-KAAP. – ‘n Pa (56) is op 700 aanklagte van verkragting, seksuele aanranding, seksuele voorbereiding, mensehandel, die besit en vervaardiging en die reël van kinderpornografie, asook om kinders en ‘n persoon wat geestelik gestremd is aan pornografie bloot te stel, deur die Gqeberha-hooggeregshof gevonnis. Die vonnis beloop twee keer lewenslange en addisioneel 3 713 jaar tronkstraf.
Luxolo Tyali, woordvoerder vir die NVG, sê die misdaad het oor ‘n aantal jare van 2015 tot 2022 by die beskuldigde se huis op Jeffreysbaai gebeur. Die hoofklaagster, die beskuldigde se biologiese dogter, is vir die eerste keer op die ouderdom van 10 jaar aan pornografie blootgestel. Van daar het die mishandeling erger geword, waartydens sy herhaaldelik deur die beskuldigde en haar tiener-halfbroer seksueel uitgebuit is.
Die beskuldigde het nie net aan die misdaad deelgeneem nie, maar dit ook opgeneem en geregisseer. Hy het dan later die video-inhoud op digitale platforms versprei. Die ondersoek het digitale bewyse van duisende foto’s en video’s op verskeie toestelle, soos selfone, skootrekenaars, hardeskywe en geheuestokkies, wat aan onbekende derde partye gedeel is, onthul. Geïdentifiseerde sowel as ongeïdentifiseerde minderjariges, sommige kleuters, is in die materiaal te sien. Die slagoffers is naak of gedeeltelik naak in seksuele aksies, dikwels onder dwang, uitgebeeld. Die uitbuiting was ook nie net tot die hoofklaagster beperk nie; ander kinders in die huishouding is ook voorberei en misbruik. In sekere gevalle het die beskuldigde sy minderjarige seun beveel om die foto’s en video’s aan eksterne kliënte te verkoop.
Die beskuldigde is op 1 September 2022 gearresteer, nadat sy minderjarige biologiese dogter aan ‘n familielid van die mishandeling vertel het. Die res van die misdade in die betrokke familie is daarna met ‘n ondersoek aan die lig gebring.
Tyali sê alhoewel die beskuldigde onskuldig gepleit het, het hy sekere erkennings ingevolge Artikel 220 van die Strafproseswet gemaak. As ’n beskuldigde tydens ’n hofsaak ’n feit erken, hoef die staat nie meer getuienis daaroor te lewer nie – dit word as feit aanvaar.
Ismat Cerfontein, die senior staatsadvokaat, het geargumenteer die misdade is die ernstigste en mees aanhoudende vorme van mishandeling wat die hof nog teëgekom het. Sy het klem geplaas op die voorbedagte aard, die bedoelde voorbereiding en verspreiding van die foto’s en video’s met tegnologie. Sy het voorts aangevoer die afwesigheid van berou en die uitbuitende betrokkenheid van ander minderjariges lewenslange gevangenisstraf vereis.
Die hof het tydens vonnisoplegging saamgestem. Die vonnisse sal gelyktydig uitgedien word en die beskuldigde is ook onbevoeg verklaar om ‘n vuurwapen te besit. Sy naam sal in die nasionale register vir seksuele oortreders aangebring word.
Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by [email protected]





