VRYSTAAT. – ‘n Vrou (60) van Bothaville is Saterdag drie keer met ‘n hamer in haar huis op die kop geslaan, waarna sy verkrag is.
Sers. Palesa Thabana, polisiewoordvoerder, sê Welkom-GKS ondersoek die saak. Bothaville-polisie is omstreeks 12:15 na ‘n verkragtingsklag ontbied. Die slagoffer is met ‘n bloeiende kopwond aangetref. Daar word beweer dat die slagoffer pas haar huis binnegegaan het toe sy deur ’n onbekende man oorval is. Hy het haar glo drie keer met ’n hamer op die kop geslaan voordat hy haar verkrag het. Die slagoffer het ernstige kopbeserings opgedoen. Sy is eers na ’n plaaslike hospitaal geneem, maar weens die erns van haar beserings later na Welkom-hospitaal oorgeplaas.
Die polisie het die hamer wat vermoedelik in die voorval gebruik is, gekonfiskeer. Niemand is tot dusver in hegtenis geneem nie. Die polisie se ondersoek duur voort.
Enigiemand met inligting wat tot die inhegtenisneming van die verdagte kan lei, word gevra om AO Anje Tait by 083 279 3213 te bel.





