LIMPOPO. – ‘n Meisie (5) is Sondag in Nyakelane dood nadat sy deur ‘n voertuig gestamp is. Die Namakgale-polisiekantoor ondersoek ’n saak van strafbare manslag.
Volgens kol. Malesela Ledwaba het die voorval omstreeks 16:30 op die Tshelang Gape-pad, wat na Makhushane-melkery lei, plaasgevind. “By ons aankoms is die kind bewegingloos langs die pad aangetref. Paramedici het haar op die toneel dood verklaar.”
Volgens voorlopige ondersoeke is die slagoffer deur ’n grys Hyundai Getz omgery terwyl sy die pad probeer oorsteek het. Die voertuig was nie meer op die toneel toe die polisie opdaag nie. Gemeenskapslede wat die voorval aanskou het, het inligting aan die polisie verskaf, waarna die bestuurder die voorval later by die polisiekantoor aangemeld het.
’n Saak van strafbare manslag is geopen en die ondersoek duur voort.





