GAUTENG. – Die voorsitter van ’n taxivereniging (58) is vanoggend (Donderdag) in Soweto doodgeskiet toe hy glo deur verdagtes in twee voertuie vasgekeer en aangeval was.
Lt.kol. Mavela Masondo, polisiewoordvoerder, sê in ‘n verklaring die voorval het omstreeks 09:30 op die Soweto-hoofweg in Diepkloof plaasgevind. Die slagoffer is op die toneel dood verklaar.
Die polisie sê die motief vir die moord is nog onbekend, maar taxigeweld kan nie uitgesluit word nie.
Lt.kol. Mavela Masondo het bevestig dat ’n soektog na die verdagtes aan die gang is en doen ’n beroep op enigiemand met inligting om na vore te kom.
EWN het die oorledene as Thami Moyo van die Gauteng National Taxi Association geïdentifiseer.





