ZIMBABWE. – Die kabinet van Zimbabwe het ’n konsepwetsontwerp gesteun wat wysigings aan die land se grondwet voorstel, insluitend die verlenging van presidensiële termyne van vyf na sewe jaar. Indien dit aanvaar word, kan dit president Emmerson Mnangagwa in staat stel om tot 2030 in die amp te bly.
Volgens Al Jazeera sluit die voorgestelde wysigings ook ’n bepaling in dat die president voortaan deur die parlement verkies word, eerder as deur ’n direkte volksstemming. Nog ’n voorstel is dat die president tien bykomende senatore mag aanstel, wat die senaat tot 90 setels sal vergroot.
Die minister van justisie, Ziyambi Ziyambi, het tydens ’n nuuskonferensie gesê die wetsontwerp sal aan die speaker van die parlement voorgelê en daarna in die Staatskoerant gepubliseer word voordat wetgewers dit oorweeg.
In ’n kabinetsverklaring is gesê die voorgestelde wysigings sal “politieke stabiliteit en beleidskontinuïteit bevorder om ontwikkelingsprogramme tot voltooiing te bring”.
Mnangagwa (83) is tans veronderstel om in 2028 uit te tree nadat hy twee termyne van vyf jaar gedien het. ’n Opvolgstryd is reeds binne die regerende ZANU-PF-party aan die gang oor wie hom moet opvolg. Mnangagwa het in 2017 aan bewind gekom nadat die weermag Robert Mugabe, wat 37 jaar regeer het, uit die kussings gelig het.
Opposisiepolitici het die jongste stappe deur Mnangagwa se party om sy ampstermyn te verleng, sterk veroordeel.
Bronne: Al Jazeera, CNBC Africa
