GAUTENG. – Vyf persone het Woensdagaand gesterf nadat ‘n voertuig en ‘n vragmotor reg van voor met mekaar gebots het toe daar glo vir klippe uitgeswaai is. Die ongeluk het op die R566 net ná Vibro Bricks, by Rama City, agter Sefako Makgatho Health Sciences University, in die Akasie-gebied plaasgevind.
Yusuf Abramjee sê in ‘n X-plasing volgens inligting is klippe glo doelbewus in die pad geplaas. Daar is probeer om die hindernis te vermy. Insittendes van die voertuig is op die toneel dood verklaar. Motoriste word gewaarsku om versigtig te wees, veral op dié roete waar gevaarlike voorwerpe glo in die pad geplaas word.
Volgens Rekord-beriggewing het die oorledenes in ‘n Suzuki Ertiga gereis toe die vragmotor glo ‘n klip tref, uitgeswaai en toe die voertuig getref het.





