MPUMALANGA. – Altesaam 10 mense het vanoggend vroeg gesterf toe ‘n minibustaxi reg van voor met ‘n bus op die R39-pad tussen Standerton en Morgenzon gebots het.
Moeti Mmusi, woordvoerder van die Departement van Gemeenskapsveiligheid, Sekuriteit en Skakeling, sê die ongeluk het ná 05:00 gebeur. Al tien die oorledenes was passasiers in die taxi, insluitend die bestuurder. Agt het op die toneel gesterf, een het onderweg na die hospitaal beswyk en ‘n tiende is later in ‘n Standerton-hospitaal aan beserings dood.
Die taxi was op pad van Morgenzon na Standerton, terwyl die bus in die teenoorgestelde rigting gery het. Die busbestuurder het ligte beserings opgedoen. Een passasier in die bus het ongedeerd daarvan afgekom. Mistige toestande op die pad het moontlik die sigbaarheid beïnvloed.
Die presiese oorsaak van die ongeluk word nog ondersoek en roekelose of nalatige bestuur word nie uitgesluit nie.





