Om ‘n hommeltuig te beskadig, kan jou duur te staan kom

Lees ook :

Foto: Ter illustrasie

Suid-Afrikaners wat probeer om ‘n hommeltuig raak te gooi, af te skiet, die sein daarvan te versteur of dit op enige ander manier onklaar te maak, kan ‘n boete van tot R50 000 of 10 jaar tronkstraf of albei opgelê word.

Cor van Deventer van die prokureursfirma Van Deventer Dowlath & Marx Inc., sê in ‘n sosialemediaplasing baie mense besef nie dat ‘n hommeltuig ingevolge die wet as ‘n vliegtuig geklassifiseer word nie. Hy waarsku dat enige inmenging met ‘n hommeltuig ‘n strafregtelike oortreding is en dat swaarder strawwe van tot 30 jaar gevangenisstraf opgelê kan word indien ‘n vliegtuig in diens in gevaar gestel word. Volgens Van Deventer mag slegs die staat; en dan net binne streng wetlike perke, ‘n hommeltuig onklaar maak.

Hy sê die waarskuwing wat die polisiediens voor die Comrades-marathon uitgereik het, beklemtoon hoe ernstig die owerhede onwettige hommeltuigvlugte opneem. Die polisie het met dié marathon bevestig dat ongemagtigde hommeltuie wat oor die marathonroete vlieg, operasioneel onklaar gemaak sou word. Van Deventer sê baie persone wat hommeltuie vir ontspanning vlieg, is onbewus van die wetgewing wat op hommeltuie van toepassing is. Selfs hommeltuie wat minder as 250 gram weeg, is nie van die regulasies vrygestel nie.

Die sogenaamde 50-meter-reël geld vir alle hommeltuie, ongeag hul gewig. Dit beteken hommeltuie mag nie binne 50 meter van mense, geboue, voertuie of openbare paaie gevlieg word nie. Hulle mag ook nie sonder die eienaar se toestemming oor private eiendom vlieg nie, nie binne 10 kilometer van ‘n lughawe of vliegveld gebruik word nie, en mag nie snags sonder die nodige goedkeurings gevlieg word nie. Operateurs moet die hommeltuig te alle tye met die blote oog kan sien en dit mag nie hoër as 120 meter vlieg nie.

Hy waarsku verder dat die vaslegging van beeldmateriaal van identifiseerbare persone sonder hul toestemming operateurs aan aanspreeklikheid ingevolge die Wet op die Beskerming van Persoonlike Inligting (Popia) kan blootstel. Van Deventer meen daar is nog geen belangrike hofuitsprake oor oortredings van Suid-Afrika se hommeltuigwette nie, maar glo dit is net ‘n kwessie van tyd voordat ‘n hof oor sulke sake uitspraak sal moet lewer.

Bronne: Van Deventer Dowlath & Marx Inc., My Broadband

Nuusflits.com moedig gesonde debat en vrye meningsuiting aan, maar behou die reg voor om enige kommentaar te verwyder wat haatspraak, laster, persoonlike aanvalle, diskriminasie, vulgêre taal of enige vorm van onwettige, beledigende of onvanpaste inhoud bevat.

Die menings en uitsprake in die kommentaar-afdeling is dié van die individuele skrywers en verteenwoordig nie die standpunte van Nuusflits.com nie.

Deur kommentaar te plaas, aanvaar gebruikers volle verantwoordelikheid vir die inhoud daarvan.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief