GAUTENG. – ’n Egpaar van Eldoradopark wat daarvan beskuldig word dat hulle hul vierjarige dogter vermoor en hul driejarige seun aangerand het, sal in die hooggeregshof in Johannesburg teregstaan. Die beskuldigdes se identiteite word weerhou om die oorlewende kind te beskerm.
Magaboke Mohlatlole, NVG-woordvoerder, sê die voorverhoorkonferensie in die saak is afgehandel en die verhoor sal op 5 Oktober begin. Die aanklagte spruit uit ’n voorval op 6 Augustus 2025. Die pa word daarvan beskuldig dat hy die vierjarige meisie aangerand en seksueel misbruik het terwyl die ma by die werk was. Bure het na bewering die kind hoor skree en die polisie ontbied. Die kind is bewusteloos en met ernstige beserings aangetref en na ’n hospitaal geneem, waar sy later aan haar beserings beswyk het.
Die pa staan tereg op verskeie aanklagte, waaronder moord, verkragting en kindermishandeling. Hy word ook daarvan beskuldig dat hy die egpaar se driejarige seun op 13 Maart 2025 aangerand het. Die ma staan tereg op aanklagte van moord, versuim om seksuele misdrywe aan te meld en kindermishandeling. Daar word beweer dat sy, ondanks beserings wat sy aan die kind opgemerk het, versuim het om die saak by die toepaslike owerhede aan te meld.
Die saak is vir pleit en verhoor vanaf 5 Oktober 2026 geskeduleer.




