POLOKWANE. – Die polisie in Limpopo het ’n soektog na verdagtes van stapel gestuur ná die moord op ’n 20-jarige komediant en inhoudskepper wat as Skeem Mafenya bekend was.
Volgens brig. Hlulani Mashaba is die slagoffer as Khadziyane Ndivhuwo geïdentifiseer. Hy het in Malamulele B2-uitbreiding gewoon en is in Madonsi Boltman B, in die Malamulele-polisiegebied in die Vhembe-distrik, vermoor.
Luidens ‘n verklaring deur die SAPD het hulle ’n berig ontvang van ’n persoon wat bewegingloos in ’n erf gelê het. Met hul aankoms het hulle die slagoffer op die grond aangetref met verskeie steekwonde aan sy bolyf.
Volgens inligting oor die voorval het ’n gemeenskapslid omstreeks 03:35 op Saterdag 17 Oktober ’n klop aan die deur gehoor. Deur ’n venster het hulle ’n man opgemerk wat erg gebloei het.
Nood- mediese dienste is ontbied, maar die slagoffer is op die toneel dood verklaar.
Die motief vir die moord is nog onbekend. Die polisie het ’n moordsaak geopen en niemand is nog in hegtenis geneem nie.
Lt.genl. Jan Petrus Scheepers, provinsiale polisiekommissaris in Limpopo, het die moord veroordeel en gesê die polisie sal alle nodige hulpbronne mobiliseer om die verantwoordelikes op te spoor.
Enigiemand met inligting oor die voorval kan die ondersoekbeampte, lt.kol. Fhumulani Ragimana, by 082 729 0229 kontak. Inligting kan ook by Crime Stop by 08600 10111 aangemeld word, of anoniem deur die MySAPS-toepassing gedeel word.
Bron: Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD).