CHINA. – Die eienaar van ’n kleuterskool in China is tot lewenslange gevangenisstraf gevonnis nadat giftige stowwe doelbewus by kos gevoeg is wat aan kinders en personeel bedien is.
Li Huifang, die persoon in beheer van die Heshi Peixin-kleuterskool in Tianshui, in die Gansu-provinsie, is Vrydag 16 Oktober deur die Lanzhou- intermediêre volkshof gevonnis. Die hof het bevind dat sy en die skool se uitvoerende hoof, Zhu Jinglin, opdrag gegee het dat stowwe by kos gevoeg word om dit kleurvoller en aantrekliker te laat lyk.
Die stowwe het pigmente bevat wat lood bevat en nie vir menslike gebruik bedoel was nie. Dit is by gebak gevoeg om die voorkoms daarvan te verbeter en die kleuterskool se aantrekkingskrag te verhoog.
Die saak het in Julie 2025 aan die lig gekom nadat bloedtoetse abnormaal hoë loodvlakke by 247 van die 251 kinders wat getoets is, getoon het.
Loodblootstelling kan ernstige gevolge vir kinders se gesondheid hê, veral omdat dit die ontwikkelende brein en senuweestelsel kan beskadig.
Die hof het Zhu tot 15 jaar gevangenisstraf gevonnis en hom ’n boete van 300 000 yuan opgelê. Vier kombuiswerkers wat die opdragte uitgevoer het, is elk tot gevangenisstraf van tussen ses en agt jaar gevonnis.
Li is ook beveel om haar persoonlike bates ter waarde van 500 000 yuan te verbeur. Sy is lewenslank van politieke regte ontneem.
Die saak het ernstige vrae oor voedselveiligheid en die beskerming van kinders in opvoedkundige instellings laat ontstaan.
Bronne: South China Morning Post; Xinhua; People’s Daily.