VRYSTAAT. – Diefstal by ‘n kragboks het Saterdagoggend vroeg ‘n kragonderbreking in die Doorn-woonbuurt in Welkom veroorsaak.
‘n Man (36) is met 11 elektriese sekerings in sy besit in hegtenis geneem.
Kapt. Stephen Thakeng sê polisielede van Welkom se honde-eenheid was besig met patrollie toe hulle die verdagte man opmerk. Die man is deursoek en 11 elektriese sekerings (fuses) van ‘n pilaarboks, asook ‘n skroewedraaier en ‘n slot, is in ‘n sak in sy besit gevind.
Die verdagte kon nie die items aan die polisielede verduidelik nie en is vir die besit van vermoedelik gesteelde eiendom in hegtenis geneem.
Thakeng sê ‘n voorlopige ondersoek het bevind daar was by ‘n pilaarboks in Zombastraat, wat aan die munisipaliteit van Matjhabeng behoort, ingebreek en sekerings gesteel. Dit het ‘n kragonderbreking in die area veroorsaak.
Die verdagte sal op 8 April in die Welkom-landdroshof verskyn.





